Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Toe die profeet Natan na hom gegaan het nadat hy met Batseba omgang gehad het.
Wees my genadig, o God,
volgens u troue liefde;
wis my oortredings uit
volgens u groot ontferming.
Was my heeltemal skoon van my sondeskuld
en reinig my van my sonde
want ek is deeglik bewus
van my oortredings
en my sonde is voortdurend voor my.
Teen U, teen U alleen, het ek gesondig
en gedoen wat verkeerd is in u oë,
sodat U gelyk sal hê
as U uitspraak lewer,
volkome reg wanneer U oordeel.
Kyk, in sondeskuld is ek gebore,
sondig toe my moeder
met my swanger geraak het.
Kyk, getrouheid verwag u reeds
in die moederskoot,
in die verborgenheid leer U my wysheid.
Neem my sonde weg met marjolein
sodat ek rein kan wees,
was my, dan sal ek witter as sneeu wees.
Laat my weer uitroepe
van vreugde en blydskap hoor;
laat die gebeente
wat U verbrysel het, juig.
Sluit u oë vir my sonde,
en al my sondeskuld, wis dit uit!
Skep 'n rein hart vir my, o God,
vernuwe 'n bestendige gees
in my binneste.
Moet my tog nie wegdryf
uit u teenwoordigheid nie;
en moet u •heilige Gees
nie van my wegneem nie.
Laat my weer die vreugde
oor u verlossing ervaar,
laat 'n gewillige gees my ondersteun.
Ek wil oortreders u paaie leer,
dat sondaars na U kan terugkeer.
Red my van bloedskuld, o God,
God wat my verlos, laat my tong
juig oor u geregtigheid.
My Heer, maak my lippe oop
en my mond sal u lof verkondig.
U vind immers geen vreugde
in slagoffers nie,
anders sou ek dit gee;
•brandoffers aanvaar U nie.
Offers aan God is 'n gebroke gees,
'n gebroke en verpletterde hart
sal U, o God, nie minag nie.