Psalms 71

71
1By U, Here, skuil ek;
laat my nie vir altyd
beskaamd staan nie.
2Red my en bevry my
deur u •geregtigheid;
draai u oor na my en verlos my.
3Wees vir my 'n rots, 'n skuiling
waarheen ek altyd kan gaan,
wat U beskik vir my verlossing.
Ja, U is my rotsvesting
en my bergskuiling.
4My God, bevry my uit die hand
van goddeloses,
uit die greep van hulle
wat onreg doen en verdruk.
5Want U is my hoop, my Heer;
Here, van my jeug af
stel ek my vertroue in U.
6Op U steun ek van die moederskoot af;
uit die ingewande van my moeder
het U my losgeknip.
U alleen loof ek deurentyd.
7Vir baie was ek 'n slegte teken,
maar U was my sterk vesting.
8My mond is vol lof vir U,
die hele dag lank
vol van u heerlikheid.
9Moet my nie verwerp in die tyd
van die ouderdom nie;
moet my nie verlaat
wanneer my kragte afneem nie.
10Want my vyande praat oor my;
hulle wat my dophou,
maak saam planne
11en sê: “God het hom verlaat;
agtervolg hom en gryp hom,
want niemand kan hom red nie.”
12O God, bly nie ver van my af nie;
my God, kom my gou te hulp.
13Laat hulle wat my lewe bedreig,
beskaamd staan.
Laat hulle wat my onheil soek,
in skande en vernedering
gehul wees.
14Maar ek, ek sal voortdurend hoop,
al u lof steeds meer besing.
15My mond sal van u geregtigheid
vertel, van u verlossingsdade,
die hele dag lank,
al is die getal bo my begrip.
16Ek sal ingaan en getuig
van die magtige dade
van die Here, my Heer;
ek sal getuig van u geregtigheid,
net van U alleen.
17O God, U het my geleer
van my jeug af,
en tot nou toe maak ek
u wonderdade bekend.
18Selfs tot in die ouderdom
en grysheid, o God,
moet U my nie verlaat nie,
totdat ek aan die nageslag
die mag van u arm bekend gemaak het,
aan almal wat kom, u mag.
19U geregtigheid, o God,
strek tot aan die hemel,
U wat grootse dade verrig het.
O God, wie is soos U?
20U wat my baie benoudhede
en rampe laat ervaar het,
U sal my weer lewend maak,
my weer uit die watermassas
van die wêreld laat opkom.
21U moet tog my aansien verhoog,
omdraai en my troos.
22Dan sal ook ek U dank
met begeleiding van harpsnare,
vir u getrouheid, my God;
ek wil U besing met begeleiding
van 'n lier,
o •Heilige van Israel.
23My lippe sal jubel
wanneer ek U besing,
ja, my hele wese,
wat U vrygemaak het.
24Ook my tong sal die hele dag
oor u geregtigheid prewel,
omdat daardie mense beskaamd staan,
omdat hulle wat my onheil soek,
in die skande gekom het.

Tans Gekies:

Psalms 71: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan