Psalms 9

9
1 Vir die •musiekleier. Op “Dood van die seun”.
'n Psalm. Van Dawid.
א ALEF
2 Ek wil die Here prys
met my hele hart;
ek wil van al u wonderdade vertel.
3Ek wil bly wees
en my in U verheug;
ek wil u Naam besing, Allerhoogste.
ב BET
4Wanneer my vyande terugdeins,
struikel hulle en kom hulle om
vanweë u teenwoordigheid,
5want U het my reg in my regsaak
gehandhaaf.
U het op die troon gesit
as 'n regverdige regter.
ג GIMEL
6U het die nasies tereggewys,
die goddeloses vernietig;
hulle naam het U
vir altyd en ewig uitgewis.
ה HE
7Die vyand – hulle is tot niet,
puinhope vir goed.
Die stede het U ontwortel.
Die herinneringe aan hulle,
dit het verdwyn.
ו WAW
8Die Here regeer vir ewig;
Hy vestig sy troon vir die regspraak.
9 Hý oordeel die wêreld
in •geregtigheid;
oor die nasies spreek Hy reg
met billikheid.
10Die Here sal 'n toevlugsoord
wees vir die onderdrukte,
'n toevlugsoord in tye van nood.
11Wie u Naam ken,
kan op U vertrou,
want U laat hulle wat U soek
nie in die steek nie, Here.
ז ZAJIN
12Besing die Here wat in Sion regeer;
maak sy dade onder die volke bekend.
13Want Hy wat bloedvergieting vergeld,
dink aan die magteloses;
Hy vergeet nie hulle hulpgeroep nie.
ח GET
14Wees my genadig, Here,
kyk hoe my haters my verdruk –
U wat my kan wegruk
uit die poorte van die dood –
15sodat ek van al u lofwaardige
dade kan vertel in die poorte
van die dogter van Sion.
Ek wil juig oor die verlossing
wat U bring.
ט TET
16Nasies het weggesink
in die vangkuil wat hulle
gemaak het;
in daardie vangnet wat hulle
gespan het,
is hulle voete gevang.
17Die Here het Homself
bekend gemaak:
Hy laat reg geskied;
goddeloses raak
in hulle eie handewerk verstrik. Higgajoon •Sela
י JOD
18Goddeloses draai om na die •doderyk,
al die nasies wat God vergeet.
כ KAF
19Maar die behoeftiges
sal nie vir altyd vergeet word nie;
die magteloses se hoop
is nie vir altyd verlore nie.
20Staan op, Here,
mense moet nie die oorhand kry nie;
laat nasies voor U teregstaan.
21Vervul hulle met vrees, Here;
die nasies moet besef
dat hulle net mense is. Sela

Tans Gekies:

Psalms 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan