Openbaring 20

20
Eerste opstanding en tweede dood
1Toe het ek 'n engel gesien, wat uit die hemel neerdaal, met die sleutel van die onpeilbare diepte en 'n swaar ketting in sy hand. 2En hy het die draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan is, gegryp en hom vasgeketting vir 'n duisend jaar lank. 3Hy het hom toe in die onpeilbare diepte gegooi, dit toegesluit, en dit bokant hom verseël, sodat hy nie meer die nasies op 'n dwaalspoor sou lei nie, totdat die duisend jaar verstryk het. Daarna moet hy vir 'n kort tydjie losgelaat word.
4Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met •Christus regeer, 'n duisend jaar lank. 5Die oorblywende dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar verstryk het nie. Dit is die eerste opstanding. 6Gelukkig en heilig is die een wat deel het aan die eerste opstanding. Oor hulle het die tweede dood nie mag nie. Hulle sal priesters van God en van Christus wees, en saam met Hom 'n duisend jaar lank regeer.
Oordeel oor Satan
7Wanneer die duisend jaar verstryk het, sal Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. 8Dan sal hy optrek om die nasies tussen die vier uithoeke van die aarde, die Gog en Magog, op 'n dwaalspoor te lei, en om hulle te mobiliseer vir die oorlog. Hulle getal is soos die sand van die see. 9Hulle het van oor die breedte van die aarde opgeruk, en die laer van die •heiliges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur uit die hemel neergedaal en hulle verteer. 10Die Duiwel wat hulle op 'n dwaalspoor gelei het, is toe in die poel van vuur en swael gegooi waar die dier en die vals profeet ook is. En hulle sal dag en nag gefolter word, vir ewig en ewig.
Laaste oordeel
11 Toe het ek 'n groot wit troon gesien, en Iemand wat daarop sit. Die aarde en die hemel het van sy aangesig af weggevlug, en daar was nie meer plek vir hulle nie. 12 En ek het die dooies, die magtiges en die geringes, voor die troon sien staan. Toe is die boekrolle oopgemaak. 'n Ander boekrol is ook oopgemaak, naamlik die een van die lewe. Die dooies is, op grond van wat daar in die boekrolle opgeteken is, volgens hulle dade geoordeel. 13Die see het toe die dooies wat daarin is, teruggegee, en die dood en Hades het die dooies wat daarin is, teruggegee. Elkeen is volgens hulle dade geoordeel. 14Toe is die dood en die •Hades in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15 En as gevind is dat iemand nie in die boekrol van die lewe opgeteken is nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan