Openbaring 6:12-17
Openbaring 6:12-17 AFR20
Ek het gesien toe Hy die sesde seël oopbreek. En daar het 'n groot aardbewing plaasgevind. Die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geheel en al soos bloed geword. Ook die sterre het uit die hemelruim op die aarde geval, soos wanneer 'n vyeboom sy groen navye afgooi as dit deur 'n stormwind geruk word. Die hemel het verdwyn, soos 'n boekrol wat opgerol word, en elke berg en eiland is uit sy staanplek verskuif. Die konings van die aarde en die hoofamptenare, die chiliarge, die rykes en die invloedrykes, elke slaaf en elke vry mens het in die grotte en onder die kranse in die berge weggekruip. Hulle het na die berge en kranse geroep: “Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly?”


