DIE OPENBARING 6:12-17 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

DIE OPENBARING 6:12-17 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het 'n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword. Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van 'n vyeboom afval as dit deur 'n sterk wind geruk word. Die hemel self het verdwyn soos 'n boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud. Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?”

DIE OPENBARING 6:12-17 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?

DIE OPENBARING 6:12-17 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Ek het gekyk toe die Lam die sesde seël oopbreek. Daar was ’n groot aardbewing; die son het swart geword soos ’n harige sak, en die hele maan het so rooi soos bloed geword. Die sterre van die hemelruim het op die aarde geval, net soos ’n vyeboom sy groen navye afgooi wanneer dit deur ’n stormwind getref word. Die hemelkoepel is weggeneem soos wanneer ’n boekrol opgerol word, en elke berg en eiland het uit hulle plek verskuif. Die konings van die aarde en die hoogste amptenare, die militêre leiers, die rykes en die magtiges, elke slaaf en elke vrymens het gaan wegkruip in die grotte en onder die bergkranse. Hulle sê toe vir die berge en die kranse: “Val op ons en verberg ons voor die oë van Hom wat op die troon sit en van die wraak van die Lam!” Die belangrike dag van hulle wraak het aangebreek en wie kan staande bly?

DIE OPENBARING 6:12-17 DB (Die Boodskap)

Ek sien toe dat die Lam die sesde seël breek. Die aarde het geweldig begin skud en bewe. Asof iemand ’n pikswart doek oor die son gegooi het, het die son se strale verdwyn. Die maan was so ’n rooi kleur, net soos bloed.Sterre het uit die hemel op die aarde gereën. Dit het gelyk soos blare wat in die herfs van ’n boom afval as ’n mens dit kwaai skud. Die blou hemel is soos ’n pannekoek opgerol. Selfs die eilande en berge is heen en weer geskud en rondgegooi. Die mense het vir al wat hulle werd is, gehardloop en in grotte en klowe in die berge gaan wegkruip. Dit maak nie saak wie nie, almal moes hardloop: groot leiers, generaals, rykes, sterkes, werkers, gewone mense, almal. Uit die klowe en grotte kon ’n mens die geroep hoor. Die mense daar het die berge en rotse uit angs gesmeek: “Val asseblief op ons. Begrawe ons. Steek ons weg vir God wat oor alles heers. Ja, steek ons weg sodat ons nie hoor hoe kwaad die Lam vir ons is nie.” En kan ’n mens hulle kwalik neem? Die dag waarop hulle finaal deur God veroordeel gaan word, lê voor die deur. Nie ’n enkele een sal kan ontsnap nie.

DIE OPENBARING 6:12-17 ABA (Bybel vir almal)

Toe die Lam die sesde seël van die boekrol breek, sien ek daar is 'n groot aardbewing. Die son het donker geword, soos swart rouklere, en die maan het rooi geword soos bloed. Die sterre in die lug het op die aarde geval. Dit het gelyk soos wanneer 'n sterk wind 'n vyeboom skud en die vye wat nog nie ryp is nie, op die grond val. Die lug het verdwyn, soos wanneer iemand 'n boekrol toerol. Elke berg en eiland het verdwyn, hulle was weg. Die konings van die aarde, die belangrike mense, die generaals, die ryk mense, die mense wat oor ander mense regeer, die slawe en die mense wat nie slawe is nie, hulle almal het gaan wegkruip in grotte en tussen die rotse op die berge. Hulle het vir die berge en rotse gesê: “Julle moet op ons val, julle moet ons toemaak! Ons wil nie hê dat God ons moet sien nie, God wat op die troon sit. Ons wil nie hê dat die Lam ons moet straf nie! Want die tyd is nou hier wanneer Hulle ons sal straf, en ons sal nie aanhou lewe nie!”

DIE OPENBARING 6:12-17 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ek het gesien toe Hy die sesde seël oopbreek. En daar het 'n groot aardbewing plaasgevind. Die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geheel en al soos bloed geword. Ook die sterre het uit die hemelruim op die aarde geval, soos wanneer 'n vyeboom sy groen navye afgooi as dit deur 'n stormwind geruk word. Die hemel het verdwyn, soos 'n boekrol wat opgerol word, en elke berg en eiland is uit sy staanplek verskuif. Die konings van die aarde en die hoofamptenare, die chiliarge, die rykes en die invloedrykes, elke slaaf en elke vry mens het in die grotte en onder die kranse in die berge weggekruip. Hulle het na die berge en kranse geroep: “Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly?”

DIE OPENBARING 6:12-17 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; En die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom sy ontydige vye gooi as dit geskud word deur 'n geweldige wind. En die hemel het weggewyk soos 'n boek wat saamgerol word; en elke berg en eiland is uit hulle plekke verskuif. En die konings van die aarde en die groot manne en die rykes en die owerstes van owerstes en die helde en elke slaaf en elke vryman het hulle verberg in die holtes en in die rotse van die berge; en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Want die groot dag van sy toorn het gekom; en wie sal staande kan bly?