Openbaring 8:8-13
Openbaring 8:8-13 AFR20
Die tweede engel het op sy trompet geblaas, en iets soos 'n enorme berg, wat vlammend brand, is in die see gegooi. 'n Derde van die see het bloed geword; 'n derde van die lewende wesens in die see het doodgegaan, en 'n derde van die skepe het vergaan. Die derde engel het op sy trompet geblaas. 'n Groot ster wat soos 'n fakkel brand, het uit die hemel geval op 'n derde van die riviere en op die fonteine. Die ster se naam is Wildeals. En 'n derde van die waterbronne het soos wildeals geword, en baie mense het van die water doodgegaan, omdat dit bitter geword het. Die vierde engel het op sy trompet geblaas, en 'n derde van die son, 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre is getref, sodat 'n derde van hulle verduister is. Vir 'n derde van die dag was daar nie lig nie; en net so was dit ook in die nag. En ek het gesien, en ek het 'n engel wat hoog in die lug vlieg, met 'n skril stem hoor roep: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde, wanneer die ander drie engele binnekort met 'n geskal op hulle trompette blaas.”


