DIE OPENBARING 8:8-13 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DIE OPENBARING 8:8-13 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die tweede engel het toe op sy trompet geblaas. Iets soos 'n groot berg wat brand, is in die see gegooi. 'n Derde van die see het bloed geword, 'n derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en 'n derde van die skepe het vergaan. Toe het die derde engel op sy trompet geblaas. 'n Groot ster wat soos 'n fakkel brand, het van die hemel af geval. Hy het op 'n derde van die riviere en op die waterbronne geval. Die ster se naam is Bitterals. 'n Derde van die water het bitter geword, en baie mense het van die water doodgegaan omdat dit besmet was. Die vierde engel het toe op sy trompet geblaas. 'n Derde van die son en 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre is getref, sodat 'n derde van hulle donker geword het. 'n Derde deel van die dag het nie lig gehad nie, en die nag ook nie. Toe het ek 'n arend hoog in die lug sien vlieg, en ek het hom met 'n harde stem hoor skreeu: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde wanneer die ander drie engele op hulle trompette gaan blaas.”
DIE OPENBARING 8:8-13 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En die tweede engel het geblaas, en iets soos 'n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En 'n derde van die see het bloed geword, en 'n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en 'n derde van die skepe het vergaan. En die derde engel het geblaas, en 'n groot ster wat soos 'n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op 'n derde van die riviere en op die waterfonteine. En die naam van die ster word genoem Alsem; en 'n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het. En die vierde engel het geblaas, en 'n derde van die son is getref en 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre, sodat 'n derde van hulle donker sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so. En ek het gesien en gehoor 'n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met 'n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas!
DIE OPENBARING 8:8-13 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die tweede engel het op sy trompet geblaas en iets soos ’n hoë berg wat aan die brand is, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword. ’n Derde van die diere wat in die see lewe, het doodgegaan, en ’n derde van die skepe is vernietig. Toe het die derde engel op sy trompet geblaas, en ’n reuse ster wat soos ’n fakkel brand, het van die hemel af op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine geval. Die ster word genoem Bitterheid. ’n Derde van die varswater het bitter geword, en ’n menigte mense het doodgegaan van die water omdat dit so bitter gemaak was. Die vierde engel het op sy trompet geblaas en ’n derde van die son, ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref sodat ’n derde van hulle verduister is. ’n Derde van die dag het geen lig gehad nie, en só ook die nag. Toe het ek gekyk en ’n besondere arend, wat hoog in die lugruim vlieg, met ’n skril stem hoor uitskreeu: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik, hoe vreeslik sal dit nie vir die bewoners van die aarde wees as die oorblywende engele binnekort op hulle trompette blaas nie!”
DIE OPENBARING 8:8-13 DB (Die Boodskap)
Toe blaas die tweede engel op sy trompet. Ek het ’n groot berg vlamme gesien. Dit is in die see gegooi. Dit was vernietigend. ’n Derde van die see het in bloed verander. Dit is nie al nie. ’n Derde van die seediere het ook gevrek en ’n derde van die skepe het gesink. Die derde engel blaas toe op sy trompet. Daarna val ’n groot ster van bo af. Dit het soos ’n fakkel gebrand. Die ster, met die naam “Bitterheid”, val toe reg op ’n derde van die riviere en op die fonteine. ’n Derde van die water het so bitter soos gal geword. Baie mense is van die giftige water dood. Die vierde engel blaas toe op sy trompet. ’n Derde van die son, maan en sterre word toe getref. Die gevolg was dat die sonlig ’n derde minder was en die maan ook ’n derde swakker geskyn het. Ek kyk toe mooi. Bo in die lug sien ek ’n arend sweef. Die arend skree toe hard sodat almal kan hoor: “Verdoemend, ja, vernietigend, verskriklik! Die arme mense op aarde. Ek kry hulle jammer as die laaste drie engele op hulle trompette blaas.”
DIE OPENBARING 8:8-13 ABA (Bybel vir almal)
Die tweede engel het sy trompet geblaas. Ek het iets gesien wat lyk soos 'n groot berg wat brand en wat vol vuur is. Dit het op die see geval, en een derde van die see het bloed geword. Een derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan en een derde van al die skepe het gesink. Die derde engel het sy trompet geblaas. Toe val 'n groot ster uit die lug. Dit het gebrand soos 'n fakkel. Die ster het geval op een derde van die riviere en fonteine. Die ster se naam was Wilde-als. Een derde van die water het so bitter soos wilde-als geword, en baie mense het gesterf van die water, want dit het bitter geword. Die vierde engel het sy trompet geblaas. Een derde van die son en een derde van die maan en een derde van die sterre het donker geword. Een derde van die dag was donker, en die nag was ook donker. En ek het 'n arend gesien wat hoog in die lug vlieg. Ek het gehoor hy skree hard en hy sê: “Dit sal baie baie sleg gaan met die mense op die aarde wanneer die ander drie engele hulle trompette blaas.”
DIE OPENBARING 8:8-13 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die tweede engel het op sy trompet geblaas, en iets soos 'n enorme berg, wat vlammend brand, is in die see gegooi. 'n Derde van die see het bloed geword; 'n derde van die lewende wesens in die see het doodgegaan, en 'n derde van die skepe het vergaan. Die derde engel het op sy trompet geblaas. 'n Groot ster wat soos 'n fakkel brand, het uit die hemel geval op 'n derde van die riviere en op die fonteine. Die ster se naam is Wildeals. En 'n derde van die waterbronne het soos wildeals geword, en baie mense het van die water doodgegaan, omdat dit bitter geword het. Die vierde engel het op sy trompet geblaas, en 'n derde van die son, 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre is getref, sodat 'n derde van hulle verduister is. Vir 'n derde van die dag was daar nie lig nie; en net so was dit ook in die nag. En ek het gesien, en ek het 'n engel wat hoog in die lug vlieg, met 'n skril stem hoor roep: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde, wanneer die ander drie engele binnekort met 'n geskal op hulle trompette blaas.”
DIE OPENBARING 8:8-13 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die tweede engel het geblaas, en soos 'n groot berg wat brand van vuur is in die see gegooi, en die derde deel van die see het bloed geword; En die derde deel van die wesens wat in die see was en lewe gehad het, het gesterwe; en die derde deel van die skepe is vernietig. En die derde engel het geblaas, en daar het 'n groot ster uit die hemel geval wat soos 'n lamp brand, en dit het geval op 'n derde van die riviere en op die waterfonteine; En die naam van die ster word genoem Als, en die derde deel van die water het als geword; en baie mense het gesterwe van die waters, omdat hulle bitter geword het. En die vierde engel het geblaas, en die derde deel van die son is geslaan, en die derde deel van die maan en die derde deel van die sterre; sodat die derde deel van hulle verduister was, en die dag vir 'n derde deel daarvan nie geskyn het nie, en ook die nag. En ek het gesien en gehoor 'n engel wat deur die middel van die hemel vlieg en met 'n groot stem sê: Wee, wee, wee die bewoners van die aarde vanweë die ander stemme van die basuin van die drie engele wat nog moet blaas!