Openbaring 9:13-21
Openbaring 9:13-21 AFR20
Ook die sesde engel het op sy trompet geblaas. En ek het 'n stem vanuit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, aan die sesde engel met die trompet hoor sê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgebind is.” Die vier engele wat gereed gestaan het met die oog op hierdie uur en hierdie dag en hierdie maand en hierdie jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mense dood te maak. Die getal soldate in die ruitery was twee maal tienduisend maal tienduisend. Ek het gehoor dat dit hulle getal was. Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: hulle het vuurrooi, oranjekleurige en swaelgeel borsplate gedra. Die perde se koppe het soos dié van leeus gelyk met vuur, rook en swael wat uit hulle bekke borrel. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke borrel, is 'n derde van die mense doodgemaak. Die perde se krag het in hulle bekke en sterte gelê, want hulle sterte was net soos slange, met koppe aan, waarmee hulle skade aanrig. Nogtans het die res van die mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, hulle nie bekeer van die werke van hulle hande nie. Hulle het aangehou om die demone te aanbid, en ook die afgode van goud, silwer en koper en van klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle dus nie bekeer van hulle moorde, towery, onsedelikheid of stelery nie.


