DIE OPENBARING 9:13-21 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DIE OPENBARING 9:13-21 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het 'n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.” Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mensdom dood te maak. Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog 'n keer soveel. Ek het hulle getal gehoor. En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters só gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is 'n derde van die mensdom doodgemaak. Die perde se vermoë om skade te doen, is in hulle bekke en ook in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense. Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie. Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.
DIE OPENBARING 9:13-21 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN die sesde engel het geblaas, en ek het 'n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat. Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om 'n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is 'n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het; want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan. En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.
DIE OPENBARING 9:13-21 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n enkele stem hoor kom uit die rigting van die vier horings van die goue altaar by God. Die stem het aan die sesde engel wat die trompet vashou, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.” Die vier engele wat gereedgemaak is vir hierdie uur en dag en maand en jaar is toe losgemaak om ’n derde van die mense dood te maak. Die getal perderuiters was ongeveer 200 miljoen. Ek het gehoor wat die getal is. Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: Hulle het vuurrooi en hemelsblou en swaelgeel borsplate aangehad. Die perde se koppe was soos dié van leeus en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael gestoom. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke gestoom het, is ’n derde van die mense doodgemaak. Die perde se vermoë om skade aan te rig, lê in hulle bekke, maar ook in hulle sterte, want hulle sterte het koppe net soos slange waarmee hulle die skade aanrig. Die oorblywende mense wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het ook nie tot inkeer gekom wat hulle dade betref nie. Hulle het eenvoudig aangehou om die bose geeste te aanbid, asook die afgode van goud, silwer, brons, klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle ook nie bekeer van hulle moorde of hulle toordery, seksuele sondes of stelery nie.
DIE OPENBARING 9:13-21 DB (Die Boodskap)
Toe weerklink die sesde engel se trompet. Ek hoor toe ’n stem uit die rigting van die vier horings op die vier hoeke van die goue altaar. Die altaar het voor God gestaan. Die stem praat toe met hierdie sesde engel: “Laat daardie vier engele losbreek wat net heeltyd by die groot Eufraatrivier moes bly.” Toe breek die vier engele los, want hulle was reg daarvoor. Hiervoor het hulle gewag. Nou maar waarvoor het hulle gewag? Om ’n derde van die mense van kant te maak. Hulle was nie alleen nie. Hulle het ’n massa soldate op perde gehad. Ek het ook gehoor hoe baie daar was: twee maal 10 000 en dit nog weer met 10 000 vermenigvuldig. Ek kon die perde en hulle ruiters duidelik in ’n gesig voor my sien. Elke ruiter het ysterplate oor sy bors en maag gedra, reg vir oorlog. Die plate het soos vuur gelyk met blou en geel vlekke. Elke perd se kop het gelyk soos dié van ’n leeu wat alles wil verskeur. Vuur met rook en swaelwolke het uit hulle monde geborrel. Alles voor hulle is verskroei, saam met ’n derde van die mense op die aarde. Kyk, hierdie perde het nie met hulle laat speel nie! Hulle was baie sterk. Hulle krag het veral in hulle sterte gelê en in hulle monde wat so vuur spoeg. Hulle sterte was soos slange met die verskriklikste koppe. Waar hulle jou raak pik, is daar ’n gapende wond. Die mense wat hierdie plae oorleef het, het jou werklikwaar niks daaruit geleer nie. Hulle het maar net so verkeerd en sondig bly leef. Hulle het hulle nie aan God gesteur nie en glad nie belanggestel om Hom te begin dien nie. Hulle het maar aangehou om allerhande demone te aanbid. Hulle het vir hulle beelde van goud of brons gemaak. As hulle nie goud of sulke dinge gehad het nie, het hulle dit van klip of hout gemaak. Hierdie dooie beelde wat nie eens kon sien of hoor of praat nie, het hulle dan vurig aanbid. Daar was by hulle geen teken te bespeur dat hulle enige plan het om God te dien nie. Hulle het maar met hulle moord en toordery, hulle swak seksuele gedrag en agterbakse bedrog aangegaan asof niks gebeur het nie.
DIE OPENBARING 9:13-21 ABA (Bybel vir almal)
Die sesde engel het sy trompet geblaas. Toe hoor ek iemand praat tussen die vier horings van die altaar, die goue altaar wat voor God staan. Hy het vir die sesde engel, die engel wat die trompet het, gesê: “God het vier engele vasgebind by die groot Eufraat-rivier. Jy moet hulle losmaak!” Die sesde engel het die vier engele losgemaak. God het hierdie engele gereedgehou tot op hierdie tyd, tot op hierdie dag, hierdie maand, en hierdie jaar, sodat hulle een derde van die mense moet doodmaak. Die soldate op perde was baie miljoene, ek het gehoor hoe baie hulle is. Ek het die perde en die soldate gesien, hulle het só gelyk: Die soldate het harnasse gedra. Die harnasse was baie rooi en baie blou en baie geel. Die perde se koppe was soos leeus se koppe. Daar het vuur en rook en swael uit die perde se bekke gekom. Ja, God het die mense gestraf. Die vuur en die rook en die swael wat uit die perde se bekke gekom het, was die drie strawwe van God, dit het een derde van die mense doodgemaak. Die perde het hulle bekke en hulle sterte gebruik om mense seer te maak. Hulle sterte was soos slange, hulle sterte het koppe gehad en dit het die mense seergemaak. Maar die mense wat nie gesterf het van die vuur en die rook en die swael nie, het nie begin lewe soos God wil hê hulle moet lewe nie. Hulle het die duiwels en die afgode aanbid, afgode van goud en silwer en brons en klip en hout, afgode wat nie kan sien of hoor of loop nie! Die mense wat nog lewe, het aangehou om ander mense te vermoor of om te toor of om onsedelik te lewe of om te steel.
DIE OPENBARING 9:13-21 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Ook die sesde engel het op sy trompet geblaas. En ek het 'n stem vanuit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, aan die sesde engel met die trompet hoor sê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgebind is.” Die vier engele wat gereed gestaan het met die oog op hierdie uur en hierdie dag en hierdie maand en hierdie jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mense dood te maak. Die getal soldate in die ruitery was twee maal tienduisend maal tienduisend. Ek het gehoor dat dit hulle getal was. Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: hulle het vuurrooi, oranjekleurige en swaelgeel borsplate gedra. Die perde se koppe het soos dié van leeus gelyk met vuur, rook en swael wat uit hulle bekke borrel. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke borrel, is 'n derde van die mense doodgemaak. Die perde se krag het in hulle bekke en sterte gelê, want hulle sterte was net soos slange, met koppe aan, waarmee hulle skade aanrig. Nogtans het die res van die mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, hulle nie bekeer van die werke van hulle hande nie. Hulle het aangehou om die demone te aanbid, en ook die afgode van goud, silwer en koper en van klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle dus nie bekeer van hulle moorde, towery, onsedelikheid of stelery nie.
DIE OPENBARING 9:13-21 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die sesde engel het geblaas, en ek het 'n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en vir die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat in die groot rivier Eufraat gebind is. En die vier engele is losgemaak, wat voorberei was vir 'n uur en 'n dag en 'n maand en 'n jaar om die derde deel van die mense dood te maak. En die getal van die leër van die ruiters was twee honderd duisend duisend, en ek het hulle getal gehoor. En so het ek die perde in die gesig gesien, en die wat daarop sit, met borsharnasse van vuur en van sint en swawel; en die koppe van die perde was soos die koppe van leeus; en uit hulle monde het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie is die derde deel van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle monde uitgekom het. Want hulle krag is in hulle mond en in hulle sterte, want hulle sterte was soos slange en het koppe, en daarmee maak hulle seer. En die res van die manne wat nie deur hierdie plae gedood is nie, het nog nie berou gehad oor die werke van hulle hande nie, om duiwels en afgode van goud en silwer en koper en klip en hout nie te aanbid nie; kan sien, nie hoor of loop nie: Hulle het hulle nie bekeer van hulle moorde, of van hulle towerye, of van hulle hoerery, of van hulle diefstalle nie.