Paulus, 'n dienskneg van •Christus Jesus, 'n geroepe •apostel, afgesonder vir die evangelie van God, wat Hy reeds tevore deur sy profete in die heilige Skrifte beloof het aangaande sy Seun –
wat na die liggaam
uit die nageslag van Dawid gebore is,
wat na die Gees van heiligheid
op grond van sy opstanding uit die dood
kragtig aangedui is
as die •Seun van God –
Jesus Christus, ons Here, deur wie ek die genade van my apostelskap ontvang het om tot eer van sy Naam mense uit al die heidenvolke tot geloofsgehoorsaamheid te bring, onder wie julle ook is, julle wat deur Jesus Christus geroep is –
aan al die geliefdes van God wat in Rome is, geroepe heiliges:
Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.
Heel eerste dank ek my God deur Jesus •Christus oor julle almal, omdat julle geloof oor die hele wêreld verkondig word. God, wat ek met my hele wese dien deur die evangelie van sy Seun, is my getuie dat ek gedurig aan julle dink en altyd in my gebede smeek dat die pad nou uiteindelik vir my oopgemaak sal word, as dit die wil van God is, om na julle te kom. Want ek begeer om julle te sien, sodat ek die een of ander geestelike gawe met julle kan deel om julle te versterk – of eerder, dat wanneer ek by julle is, ons wedersyds deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle geloof en julle deur myne.
Ek wil nie hê dat julle hieroor onkundig moet wees nie, broers, dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom – alhoewel ek tot nou toe verhinder is – sodat ek ook onder julle 'n vrug kan verkry soos onder die ander heidene. Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyses sowel as onverstandiges, staan ek in die skuld – vandaar my hartsbegeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.
Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat die •geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.”