ROMEINE 1:1-17

ROMEINE 1:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Paulus, skryf hierdie brief vir julle. Ek is 'n dienaar van Christus Jesus. Christus het my gekies om 'n apostel te wees en Hy het vir my die werk gegee om die goeie boodskap van God te bring. God het lank gelede vir die profete gesê hulle moet in die Ou Testament skryf dat Hy vir die mense die goeie boodskap belowe, die goeie boodskap oor sy Seun. Die Seun het mens geword, en Hy was van die nageslag van Dawid. Die Seun het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe. Daarom het die Heilige Gees gesê Christus is die Seun van God wat alles kan doen. Ja, Hy is Jesus Christus ons Here. Christus was baie goed vir my en Hy het my gekies en aangestel om 'n apostel te wees. Ek moet vir al die heidene van Hom vertel, sodat hulle in Hom kan glo en gehoorsaam kan wees aan Hom. Dan sal almal weet wie Christus is. Julle glo ook in Jesus Christus. Hy het ook vir julle gekies om aan Hom te behoort. Ek skryf hierdie brief vir julle almal wat in die stad Rome is. God is lief vir julle, Hy het julle gekies om aan Hom te behoort. Ek bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee. Maar ek wil eers vir Jesus Christus vra om vir my God te sê dat ek dankie sê, want oral in die wêreld praat die mense daaroor dat julle in Christus glo. Ek dien God met my hele hart en ek bring vir mense die goeie boodskap oor die Seun van God. Ek dink altyd aan julle, God weet dit is waar. Elke maal wanneer ek bid, dan vra ek weer vir God of Hy my sal toelaat om na julle toe te kom. Ek wil graag na julle toe kom. Ek wil vir julle 'n genadegawe van die Heilige Gees kom gee sodat julle geloof sterker kan word. Dan sal julle mý geloof sterker maak, en ek sal júlle geloof sterker maak. Vriende, dit is belangrik dat julle moet weet dat ek baie maal besluit het om na julle toe te kom, maar elke maal het iets gebeur, en dan kon ek nie kom nie. Ek wil na julle toe kom, want ek wil graag hê dat daar by júlle ook mense moet wees wat in Christus glo, soos dit ook by ander heidene gebeur het toe ek daar gewerk het. Ek moet al die mense dien: die Grieke en die mense wat nie Grieke is nie, die mense wat wysheid het en die mense wat nie wysheid het nie. Dit is hoekom ek ook graag by julle in die stad Rome die goeie boodskap wil bring. Ek is nie skaam om die goeie boodskap te bring nie. Die goeie boodskap is God se krag, dit red almal wat glo, eers die Jode, en dan ook die mense wat nie Jode is nie. Die goeie boodskap wys vir almal dat God doen wat reg is. Dit wys dat Hy mense vryspreek omdat hulle glo, en nét omdat hulle glo. Dit is soos in die Ou Testament geskryf is

ROMEINE 1:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

PAULUS, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God — wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte, aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here, deur wie ons genade en die apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te verkry onder al die heidene ter wille van sy Naam, onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus — aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! IN die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld. Want God, wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink en altyd in my gebede smeek of ek tog nou eindelik 'n goeie geleentheid sal vind deur die wil van God om na julle te kom; want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my. Maar, broeders, ek wil julle nie daarvan onkundig laat dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom nie — en ek is tot nog toe verhinder — sodat ek ook onder julle een of ander vrug kan insamel net soos onder die ander heidene. Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek 'n skuldenaar. Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig. WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

ROMEINE 1:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Paulus, 'n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort. Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof. God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie. Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil 'n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s'n en julle deur myne. Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen. Ek staan onder 'n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes, en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig. Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

ROMEINE 1:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus, 'n dienskneg van •Christus Jesus, 'n geroepe •apostel, afgesonder vir die evangelie van God, wat Hy reeds tevore deur sy profete in die heilige Skrifte beloof het aangaande sy Seun – wat na die liggaam uit die nageslag van Dawid gebore is, wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die •Seun van God – Jesus Christus, ons Here, deur wie ek die genade van my apostelskap ontvang het om tot eer van sy Naam mense uit al die heidenvolke tot geloofsgehoorsaamheid te bring, onder wie julle ook is, julle wat deur Jesus Christus geroep is – aan al die geliefdes van God wat in Rome is, geroepe heiliges: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Heel eerste dank ek my God deur Jesus •Christus oor julle almal, omdat julle geloof oor die hele wêreld verkondig word. God, wat ek met my hele wese dien deur die evangelie van sy Seun, is my getuie dat ek gedurig aan julle dink en altyd in my gebede smeek dat die pad nou uiteindelik vir my oopgemaak sal word, as dit die wil van God is, om na julle te kom. Want ek begeer om julle te sien, sodat ek die een of ander geestelike gawe met julle kan deel om julle te versterk – of eerder, dat wanneer ek by julle is, ons wedersyds deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle geloof en julle deur myne. Ek wil nie hê dat julle hieroor onkundig moet wees nie, broers, dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom – alhoewel ek tot nou toe verhinder is – sodat ek ook onder julle 'n vrug kan verkry soos onder die ander heidene. Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyses sowel as onverstandiges, staan ek in die skuld – vandaar my hartsbegeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig. Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat die •geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.”

ROMEINE 1:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Paulus, 'n dienskneg van Jesus Christus, geroep om 'n apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God, (Wat Hy vooraf deur sy profete in die Heilige Skrifte beloof het) aangaande sy Seun, Jesus Christus, onse Here, wat na die vlees gemaak is uit die geslag van Dawid; en met krag verklaar is dat hy die Seun van God is, volgens die gees van heiligheid, deur die opstanding uit die dode: Deur wie ons genade en apostelskap ontvang het, tot geloofsgehoorsaamheid onder al die nasies, ter wille van sy Naam. Onder wie is julle ook die geroepees van Jesus Christus: Aan almal wat in Rome is, geliefdes van God, geroep om heiliges te wees: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Eerstens dank ek my God deur Jesus Christus vir julle almal, dat daar oor die hele wêreld van julle geloof gepraat word. Want God is my getuie, wat ek met my gees dien in die evangelie van sy Seun, dat ek sonder ophou van julle altyd in my gebede melding maak; Ek vra, as ek nou enigsins 'n voorspoedige reis mag hê deur die wil van God om na julle te kom. Want ek verlang om julle te sien, dat ek aan julle een of ander geestelike gawe kan meedeel, sodat julle gevestig kan word; Dit is, sodat ek saam met julle vertroos kan word deur die wedersydse geloof van julle en my. Nou wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie, broeders, dat ek dikwels voorgeneem het om na julle te kom (maar tot dusver toegelaat is), sodat ek ook onder julle vrug kan dra, net soos onder ander heidene. Ek is skuldenaar teenoor die Grieke sowel as die Barbariërs; vir die wyse sowel as vir die onwyse. Soveel as wat dit in my is, is ek gereed om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig. Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo; aan die Jood eerste, en ook aan die Griek. Want daarin word die geregtigheid van God geopenbaar uit geloof tot geloof: soos geskrywe is: Die regverdige sal uit die geloof lewe.

ROMEINE 1:1-17 Die Boodskap (DB)

Van Paulus. Ek dien Christus Jesus. Hy het my aangestel as apostel. Dit is my taak om God se goeie nuus oral bekend te maak. Hierdie goeie nuus is al lankal deur God se boodskappers in die Bybel neergeskryf. Dit handel oor God se Seun, Jesus Christus. Hy is ons Here. Hy kom uit die nageslag van Dawid. Toe Jesus na sy kruisiging uit die dood opgestaan het, het die Heilige Gees aan Hom die heel belangrikste posisie in die hemel gegee. Hy is daar in die hemel triomfantlik as die Seun van God aangewys. Daarom besit Hy nou al die mag in die hemel en op die aarde. Jesus was baie goed vir my. Hy het my aangestel as sy apostel. Ek moet vir mense uit alle volke van Hom vertel. Ek sê vir hulle om in Hom te glo en om te doen wat Hy sê. Julle tel onder die gelukkiges wat hierdie goeie nuus glo. Christus het julle ook geroep om in Hom te glo. Ek skryf hierdie brief aan julle almal in Rome. God het julle baie lief. Hy het julle eenkant gesit vir Homself sodat julle Hom voltyds kan dien. Die goedheid en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus is by julle. Ek kan nie anders as om deur Jesus Christus vir my God dankie te sê dat mense oor die hele wêreld van julle geloof praat nie. En God, wat ek met my hele lewe dien omdat ek die goeie nuus oor sy Seun bekendmaak, weet dat julle nooit uit my gedagtes is nie. Elke keer as ek bid, vra ek Hom of Hy tog nie ’n plan kan maak sodat ek binnekort na julle toe kan kom nie. Ek wil julle baie graag persoonlik ontmoet. Ek het die wonderlikste geestelike geskenke uit God se hand ontvang waarin ek julle wil laat deel. Dit sal julle geloof sterker maak. Ek wil graag ook iets van julle ontvang: julle groot geloof kan my aanspoor om nog harder vir die Here te werk. So kan ons mekaar help om die Here nog beter te dien. Weet julle hoeveel keer ek al probeer het om na julle toe te kom? Tot nou toe het daar elke keer iets voorgeval. Maar hou moed, ek is op pad. Ek beplan om ook daar in Rome vir julle en vir ander mense van Christus te vertel. Op hierdie manier sal daar ook by julle ’n ryk oes vir die Here ingesamel word. Dit is my plig om aan alle mense op aarde, Jode en nie-Jode, geleerdes en ongeletterdes, die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak. Daarom wil ek bitter graag na julle toe kom. Ook daar in Rome moet ek die goeie nuus laat weerklink. Ek is glad nie skaam om die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak nie. God se groot krag is aan die werk op elke plek waar hierdie boodskap verkondig word. Hy red elkeen wat dit glo, Jode en nie-Jode. God se goedheid word sigbaar oral waar mense met hulle hele lewe op Hom vertrou. Daar staan immers in die Bybel geskryf: “Almal wat deur God van hulle sondes vrygespreek is omdat hulle glo, sal die ware lewe ken.”

ROMEINE 1:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie brief kom van Paulus. Ek is ’n dienskneg van Christus Jesus. Hy het my geroep om sy apostel te wees. Ek is afgesonder om God se Goeie Nuus te verkondig. Hierdie Goeie Nuus het Hy reeds lank gelede deur sy profete in die Skrif beloof. Dit gaan oor sy Seun, Jesus Christus. Wat sy menslikheid betref, is Hy uit die nageslag van Dawid gebore. Wat sy heilige Goddelikheid betref – sy opstanding uit die dood het kragdadig bevestig dat Hy die Seun van God is. Wat meer is, Hy is ook ons Here! Dit is hierdie Here wat aan my die onverdiende voorreg gegee het om sy apostel te wees en die Goeie Nuus aan al die nie-Joodse nasies te bring sodat hulle kan glo en God kan gehoorsaam, en Hy op hierdie manier verheerlik kan word. Julle maak ook deel uit van daardie nie-Joodse nasies – julle almal wat geroep is om aan Jesus Christus te behoort. Ek skryf aan julle almal in Rome – julle vir wie God liefhet en vir wie Hy geroep het om sý mense te wees. Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees. Hier heel aan die begin wil ek vir julle vertel hoe ek vir God in die Naam van Jesus Christus dankie sê vir elkeen van julle, want die hele wêreld praat van julle geloof. Dié God wat ek met hart en siel dien deurdat ek hierdie Goeie Nuus omtrent sy Seun uitdra, is my getuie dat julle dag en nag in my gedagtes is. Elke keer smeek ek dat God, as dit sy wil is, tog nou uiteindelik vir my die pad sal oopmaak om by julle uit te kom. Ek begeer met my hele hart om julle te besoek. Ek wil vir julle ’n geestelike seëning bring om julle in julle geloof te versterk. Eintlik bedoel ek dat ons mekáár dan oor en weer sal kan bemoedig deur ons gemeenskaplike geloof. Broers en susters, julle moet beslis weet dat ek my al dikwels voorgeneem het om na julle toe te kom. Ek hoop om ook onder julle ’n geseënde bediening te hê, net soos onder die ander nie-Jode waar ek gewerk het. Ek het ’n groot verantwoordelikheid teenoor almal – maak nie saak of hulle van ons eie kultuur of van ’n ander kultuur is, of hoe opgevoed of onopgevoed hulle is nie. Daarom is ek gretig om ook aan julle in Rome die Goeie Nuus te verkondig. Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode. Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”