ROMEINE 1:1-17

ROMEINE 1:1-17 AFR53

PAULUS, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God — wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte, aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here, deur wie ons genade en die apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te verkry onder al die heidene ter wille van sy Naam, onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus — aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! IN die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld. Want God, wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink en altyd in my gebede smeek of ek tog nou eindelik 'n goeie geleentheid sal vind deur die wil van God om na julle te kom; want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my. Maar, broeders, ek wil julle nie daarvan onkundig laat dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom nie — en ek is tot nog toe verhinder — sodat ek ook onder julle een of ander vrug kan insamel net soos onder die ander heidene. Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek 'n skuldenaar. Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig. WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.