Op die vier-en-twintigste dag van die elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, was dít die woord van die HERE aan die profeet Sagaria, seun van Beregja en die kleinseun van Iddo.
In die nag het ek gesien: Kyk, daar was 'n man wat op 'n vosperd gery het. Hy het in die diep vallei tussen die mirtestruike gestaan. Agter hom was daar nog perde, bruines, vosperde en wittes.
Toe vra ek: “Wat beteken dit, my heer?” En die engel wat met my praat, antwoord my: “Ek sal jou wys wat dit beteken.”
Die man wat tussen die mirtestruike staan, het geantwoord en gesê: “Dit is die ruiters wat die HERE gestuur het om die aarde te deurkruis.”
En hulle het die •engel van die HERE wat tussen die mirtestruike gestaan het, geantwoord en gesê: “Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die hele aarde is stil en rustig.”
Daarop het die engel van die HERE weer gepraat en gevra: “HERE, Heerser oor alle magte, hoe lank gaan U nog u ontferming weerhou van Jerusalem en die dorpe van Juda, teen wie U nou al sewentig jaar lank ontstoke is?”
Die HERE het toe die engel wat met my praat, met vriendelike en troosvolle woorde geantwoord. En toe sê die engel wat met my praat, vir my: “Roep dit uit! So sê die HERE, Heerser oor alle magte: ‘Ek is diep besorg oor Jerusalem en Sion; maar Ek is vol fel grimmigheid teen die selfvoldane nasies. Ek was eers minder grimmig, maar hulle het die onheil vererger.’
“ ‘Daarom,’ so sê die HERE, ‘keer Ek vol ontferming terug na Jerusalem. My huis sal daar gebou word, en Jerusalem sal met 'n maatlyn uitgemeet word.’ Dit is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. En verkondig ook verder: “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘My stede sal weer oorloop van goeie dinge. Die HERE sal Sion weer vertroos en Hy sal Jerusalem weer verkies.’ ” ’ ”