SAGARIA 1:7-17

SAGARIA 1:7-17 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het weer met die profeet Sagaria gepraat. Dit was in die tweede jaar nadat Darius koning geword het, op die 24ste dag van die elfde maand, dit is die maand Sebat. Sagaria was die seun van Berekja en Berekja was die seun van Iddo. Dit was in die nag, en die Here het vir my, Sagaria, iets gewys. Daar was 'n man wat op 'n rooi perd gesit het. Hy was tussen mirtebome in 'n diep kloof in 'n berg. Agter hom was nog mense op rooi perde en bruin perde en wit perde. Daar was 'n engel by my. Hy moes vir my sê wat alles beteken. Ek het vir die engel gevra: “Meneer, hoekom is die mense en die perde hier?” Die engel het vir my gesê: “Ek sal vir jou wys hoekom hulle hier is.” Die man wat tussen die mirtebome gestaan het, praat toe en sê: “Die Here het daardie mense gestuur. Hulle moet gaan kyk wat oral op die aarde gebeur.” Die mense op die perde het gepraat met die Engel van die Here, die Man wat tussen die mirtebome gestaan het. Hulle het gesê: “Ons was oral op die aarde, en alles is stil en rustig op die aarde.” Die Engel van die Here het toe gepraat en gesê: “Here, U wat oor alles regeer, U is 70 jaar lank kwaad vir die mense van Juda en Jerusalem. U moet asseblief weer goed wees vir hulle.” Die Here het gepraat met die engel wat vir my moes sê wat alles beteken. Die Here het vir hom gesê dit sal weer goed gaan met die mense van Juda en Jerusalem. Die engel het toe vir my gesê: “Jy moet hard praat en jy moet sê die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Ek is baie kwaad oor wat die ander volke met Jerusalem gedoen het. Ek is baie kwaad vir die volke wat gedink het hulle kan doen wat hulle wil. Ek was net 'n bietjie kwaad vir die mense van Jerusalem, maar die ander volke het hulle baie swaar laat kry. “ ‘Maar Ek sal nou weer goed wees vir die mense van Jerusalem. Hulle sal my tempel weer daar by hulle bou. Hulle sal die stad Jerusalem ook weer bou.’ Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Jy moet weer hard praat en jy moet sê die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Die stede van Juda behoort aan My. Dit sal weer goed gaan met die mense in die stede. En Ek sal weer goed wees vir die mense van Jerusalem. Ek sal weer sê: Jerusalem is my stad.’ ”

SAGARIA 1:7-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

OP die vier-en-twintigste dag van die elfde maand, dit is die maand Sebat, in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die HERE tot die profeet Sagaría, die seun van Berégja, die seun van Iddo, gekom en gesê: Ek het in die nag 'n gesig gesien — daar was 'n man wat op 'n bruin perd ry, en hy het gestaan tussen die mirtebome wat in die diepte was; en agter hom was daar bruin, vos en wit perde. Toe sê ek: Wat beteken dit, my heer? En die engel wat met my gespreek het, antwoord my: Ek sal jou toon wat dit beteken. En die man wat tussen die mirtebome gestaan het, het aangehef en gesê: Dit is hulle wat die HERE gestuur het om die aarde te deurkruis. Daarop het hulle die Engel van die HERE, wat tussen die mirtebome gestaan het, toegespreek en gesê: Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die ganse aarde is stil en rustig. Daarop het die Engel van die HERE aangehef en gesê: HERE van die leërskare, hoe lank nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem en oor die stede van Juda waarop U alreeds sewentig jaar vertoornd was? Toe antwoord die HERE die engel wat met my gespreek het, goeie woorde, troosvolle woorde. Daarop sê die engel wat met my gespreek het: Roep en sê: So spreek die HERE van die leërskare: Ek ywer oor Jerusalem en oor Sion met 'n groot ywer; maar Ek is grootliks vertoornd oor die sorglose nasies wat, terwyl Ek 'n weinig vertoornd was, die onheil aangehelp het. Daarom, so sê die HERE: Ek wend My met ontferming tot Jerusalem; my huis sal daarin gebou word, spreek die HERE van die leërskare, en 'n meetsnoer oor Jerusalem gespan word. Roep verder en sê: So spreek die HERE van die leërskare: My stede sal weer oorstroom wees van goeie dinge, en die HERE sal Sion weer vertroos, en Hy sal Jerusalem weer verkies.

SAGARIA 1:7-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op die vier en twintigste dag van die elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo. Ek het in die nag 'n gesig gesien. Daar het 'n man op 'n bruin perd gesit. Hy was tussen die mirtestruike in 'n diep kloof, en agter hom was ruiters op bruin en vos en wit perde. Ek het gevra: “Wat beteken dit, Meneer?” 'n Engel wat vir my die gesig moes uitlê, het vir my gesê: “Ek sal jou laat sien wat dit beteken.” Toe praat die man wat tussen die mirte was. Hy het gesê: “Dit is die ruiters wat deur die Here uitgestuur is om die wêreld te deurkruis.” Die ruiters sê toe vir die engel van die Here, vir die engel wat tussen die mirte was: “Ons hét die wêreld deurkruis, en die hele wêreld is rustig en stil.” Toe sê die engel wat vir my die gesig moes uitlê, die engel van die Here: “Here, Almagtige, hoe lank gaan dit nog duur voordat U U weer oor Jerusalem en die stede van Juda ontferm? U toorn rus nou al sewentig jaar op hulle!” Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom bemoedig. Daarna sê die engel vir my: “Roep en sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion. My toorn gaan losbreek teen die nasies wat nou so sorgvry woon, want my toorn teen Jerusalem was nie so groot nie; dit is die heidennasies wat dit so 'n groot ramp laat word het. Daarom, so sê die Here, gaan Ek My weer oor Jerusalem ontferm: my tempel daar gaan herbou word, sê die Here die Almagtige, Jerusalem sal opnuut as stad uitgelê word. “Roep weer en sê: So sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed. Ek, die Here, gaan weer genade betoon aan Sion, Ek gaan Jerusalem weer my woonplek maak.”

SAGARIA 1:7-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op die vier-en-twintigste dag van die elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, was dít die woord van die HERE aan die profeet Sagaria, seun van Beregja en die kleinseun van Iddo. In die nag het ek gesien: Kyk, daar was 'n man wat op 'n vosperd gery het. Hy het in die diep vallei tussen die mirtestruike gestaan. Agter hom was daar nog perde, bruines, vosperde en wittes. Toe vra ek: “Wat beteken dit, my heer?” En die engel wat met my praat, antwoord my: “Ek sal jou wys wat dit beteken.” Die man wat tussen die mirtestruike staan, het geantwoord en gesê: “Dit is die ruiters wat die HERE gestuur het om die aarde te deurkruis.” En hulle het die •engel van die HERE wat tussen die mirtestruike gestaan het, geantwoord en gesê: “Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die hele aarde is stil en rustig.” Daarop het die engel van die HERE weer gepraat en gevra: “HERE, Heerser oor alle magte, hoe lank gaan U nog u ontferming weerhou van Jerusalem en die dorpe van Juda, teen wie U nou al sewentig jaar lank ontstoke is?” Die HERE het toe die engel wat met my praat, met vriendelike en troosvolle woorde geantwoord. En toe sê die engel wat met my praat, vir my: “Roep dit uit! So sê die HERE, Heerser oor alle magte: ‘Ek is diep besorg oor Jerusalem en Sion; maar Ek is vol fel grimmigheid teen die selfvoldane nasies. Ek was eers minder grimmig, maar hulle het die onheil vererger.’ “ ‘Daarom,’ so sê die HERE, ‘keer Ek vol ontferming terug na Jerusalem. My huis sal daar gebou word, en Jerusalem sal met 'n maatlyn uitgemeet word.’ Dit is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. En verkondig ook verder: “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘My stede sal weer oorloop van goeie dinge. Die HERE sal Sion weer vertroos en Hy sal Jerusalem weer verkies.’ ” ’ ”

SAGARIA 1:7-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Op die vier-en-twintigste dag van die elfde maand, dit is die maand Sebat, in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die HERE gekom tot Sagaria, die seun van Beregja, die seun van die profeet Iddo, en gesê: Ek het snags gesien, en kyk, daar ry 'n man op 'n rooi perd, en hy staan tussen die mirtebome wat op die bodem was; en agter hom was daar rooi perde, gespikkeld en wit. Toe sê ek: O my heer, wat is dit? En die engel wat met my gespreek het, het vir my gesê: Ek sal jou wys wat dit is. En die man wat tussen die mirtebome gestaan het, het geantwoord en gesê: Dit is hulle wat die HERE gestuur het om deur die aarde te gaan. En hulle het die engel van die HERE wat tussen die mirtebome gestaan het, geantwoord en gesê: Ons het die aarde heen en weer gewandel, en kyk, die hele aarde sit stil en rus. Toe antwoord die engel van die HERE en sê: HERE van die leërskare, hoe lank sal U nie barmhartig wees oor Jerusalem en oor die stede van Juda waarteen U hierdie tien en sestig jaar lank verontwaardig was nie? En die HERE het die engel wat met my gespreek het, geantwoord met goeie woorde en gemaklike woorde. Toe sê die engel wat met my gespreek het, vir my: Roep en sê: So spreek die HERE van die leërskare; Ek is jaloers op Jerusalem en vir Sion met groot jaloesie. En ek is baie ontevrede met die heidene wat gerus is, want ek was maar 'n bietjie ontevrede, en hulle het die ellende aangehelp. Daarom, so sê die HERE: Ek het na Jerusalem teruggekeer met ontferming: my huis sal daarin gebou word, spreek die HERE van die leërskare, en 'n lyn sal oor Jerusalem gespan word. Roep nog en sê: So spreek die HERE van die leërskare; My stede sal deur voorspoed nog uitgebrei word; en die HERE sal Sion nog troos en Jerusalem nog uitkies.

SAGARIA 1:7-17 Die Boodskap (DB)

Op vyftien Februarie, in die tweede jaar wat Darius koning was, wou die Here weer hê dat Sagaria iets vir sy volk moes gaan sê. Sagaria het vertel wat gebeur het: Een nag het ek ’n droom gesien van ’n man wat op ’n bruin perd sit. Hy het tussen bome in ’n kloof gestaan. Agter hom was ook nog ’n rooi perd, ’n bruine en ’n witte. Ek het gevra: Wat is hier aan die gang, Meneer? ’n Man wat soos ’n engel lyk, het vir my gesê: “Ek sal jou sê wat dit beteken.” Die man wat tussen die bome gestaan het, het toe begin verduidelik. “Dit is die ruiters wat die Here gestuur het om te gaan kyk wat in die wêreld aangaan. Die ruiters het toe teruggekom en daar by die bome alles kom vertel. Hulle het gesê: Ons het deur die wêreld gery en alles is stil en rustig.” Die engel van die Here sê toe: “Here, U is die Here van alles en almal! U is nou al vir 70 jaar kwaad vir die mense van Jerusalem en die ander stede van Juda. Hoe lank gaan dit nog vat voordat U weer vir hulle goed gaan wees?” Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom moed ingepraat. En die engel het vir my gesê: “Skree hard sodat almal kan hoor wat die Here sê.” Hy sê: “Ek is baie lief vir Jerusalem en die berg waarop die tempel staan. Al twee is Myne! Maar Ek is sommer baie kwaad vir die nasies wat so tevrede met hulleself is. Ek was kwaad vir my volk, maar nou het die Babiloniërs net te ver gegaan. Hulle het hulle nou te sleg behandel. Daarom sal Ek na Jerusalem toe terugkom om vir die mense te wys dat Ek vir hulle omgee. Ek sal sorg dat my tempel reggemaak word. Hulle sal kom kyk wat nodig is om my tempel weer op te bou. Skree weer sodat almal kan hoor wat die Here gaan doen: Hy sê: Ek sal sorg dat dit sommer baie goed met al die mense in Israel gaan. Daar sal meer as genoeg van alles wees. Ek sal ook kyk dat alles weer vir Jerusalem reg verloop. Ek kies Jerusalem as my gunstelingstad.”

SAGARIA 1:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op 15 Februarie van die tweede jaar van koning Darius se regering, het die HERE nog ’n boodskap aan die profeet Sagaria, die seun van Berekja, die kleinseun van Iddo, gestuur. Sagaria het gesê: In ’n visioen gedurende die nag het ek ’n man op ’n rooibruin perd sien sit. Hy was tussen mirtebome in ’n laagte. Agter hom was daar rooibruin, bruin en wit perde. Ek het toe die engel wat met my gepraat het, gevra: “Meneer, wat beteken al hierdie perde?” “Ek sal jou wys,” het die engel geantwoord. Die man wat daar tussen die mirtebome gestaan het, het verduidelik: “Die HERE het hulle uitgestuur om die hele aarde te patrolleer.” Die ruiters het toe verslag gedoen aan die engel van die HERE wat tussen die mirtebome gestaan het: “Ons het die aarde deurkruis en die hele aarde is rustig en stil.” Toe die engel van die HERE dit hoor, het hy hierdie gebed gebid: “O HERE, die Almagtige, vir 70 jaar is U nou reeds kwaad vir Jerusalem en die dorpe van Juda. Hoe lank nog voordat U hulle weer genadig sal wees?” Die HERE het toe vriendelike en vertroostende woorde gehad vir die engel wat met my gepraat het. Die engel het vir my gesê: “Laat hierdie boodskap weerklink sodat almal dit kan hoor: ‘Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: Ek het nog steeds ’n brandende liefde vir Jerusalem en Sion. Maar Ek is woedend kwaad vir die ander nasies wat vrede en sekuriteit geniet. Ek was nie so kwaad vir my volk nie, dit is die heidennasies wat die ramp aangehelp het.’ “Daarom, dit is wat die HERE sê: ‘Ek keer in genade weer terug na Jerusalem toe. My tempel sal herbou word, sê die HERE, die Almagtige, en planne sal gemaak word vir die heropbou van Jerusalem.’ Sê dit ook: ‘Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: Die stede van Israel sal weer met voorspoed oorstroom word en die HERE sal weer vir Sion vertroos en Hy sal Jerusalem weer kies as sy eie.’”