Sagaria 1:7-17

Sagaria 1:7-17 DB

Op vyftien Februarie, in die tweede jaar wat Darius koning was, wou die Here weer hê dat Sagaria iets vir sy volk moes gaan sê. Sagaria het vertel wat gebeur het: Een nag het ek ’n droom gesien van ’n man wat op ’n bruin perd sit. Hy het tussen bome in ’n kloof gestaan. Agter hom was ook nog ’n rooi perd, ’n bruine en ’n witte. Ek het gevra: Wat is hier aan die gang, Meneer? ’n Man wat soos ’n engel lyk, het vir my gesê: “Ek sal jou sê wat dit beteken.” Die man wat tussen die bome gestaan het, het toe begin verduidelik. “Dit is die ruiters wat die Here gestuur het om te gaan kyk wat in die wêreld aangaan. Die ruiters het toe teruggekom en daar by die bome alles kom vertel. Hulle het gesê: Ons het deur die wêreld gery en alles is stil en rustig.” Die engel van die Here sê toe: “Here, U is die Here van alles en almal! U is nou al vir 70 jaar kwaad vir die mense van Jerusalem en die ander stede van Juda. Hoe lank gaan dit nog vat voordat U weer vir hulle goed gaan wees?” Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom moed ingepraat. En die engel het vir my gesê: “Skree hard sodat almal kan hoor wat die Here sê.” Hy sê: “Ek is baie lief vir Jerusalem en die berg waarop die tempel staan. Al twee is Myne! Maar Ek is sommer baie kwaad vir die nasies wat so tevrede met hulleself is. Ek was kwaad vir my volk, maar nou het die Babiloniërs net te ver gegaan. Hulle het hulle nou te sleg behandel. Daarom sal Ek na Jerusalem toe terugkom om vir die mense te wys dat Ek vir hulle omgee. Ek sal sorg dat my tempel reggemaak word. Hulle sal kom kyk wat nodig is om my tempel weer op te bou. Skree weer sodat almal kan hoor wat die Here gaan doen: Hy sê: Ek sal sorg dat dit sommer baie goed met al die mense in Israel gaan. Daar sal meer as genoeg van alles wees. Ek sal ook kyk dat alles weer vir Jerusalem reg verloop. Ek kies Jerusalem as my gunstelingstad.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Sagaria 1:7-17