1 Johannes 4:5-13

1 Johannes 4:5-13 CAB23

Hulle is van die wêreld; daarom spreek hulle van die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; wie God ken, luister na ons; wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieraan ken ons die gees van waarheid en die gees van dwaling. Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want liefde is uit God; en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, ken God nie; want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, omdat God sy eniggebore Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde, nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit gesien nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, omdat Hy ons van sy Gees gegee het.