1 JOHANNES 4:5-13
1 JOHANNES 4:5-13 Bybel vir almal (ABA)
Die vals profete is mense van die wêreld. Daarom praat hulle soos die mense van die wêreld, en die mense van die wêreld doen wat die vals profete sê. Maar ons is kinders van God. Almal wat vir God ken, doen wat ons sê. Almal wat nie kinders van God is nie, doen nie wat ons sê nie. Daarom weet ons wie het 'n gees wat lieg en wie het God se Gees, die Gees van die waarheid. Vriende, ons moet lief wees vir mekaar, want liefde kom van God. Almal wat lief is vir ander mense, is kinders van God en hulle ken vir God. Mense wat nie lief is vir ander mense nie, ken nie vir God nie, want God is liefde. God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Niemand anders is soos sy Seun nie. Sy Seun het gekom om vir ons ware lewe te gee. Ware liefde is nie dat óns lief was vir God nie, maar dat Gód lief was vir ons en dat Hy sy Seun gestuur het. Sy Seun het gesterf, Hy was die offer wat ons sonde weggeneem het en wat ons met God versoen het. Vriende, God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is, daarom moet ons ook lief wees vir mekaar. Niemand het vir God gesien nie, nooit. As ons lief is vir mekaar, dan bly God by ons en dan is ons harte vol van sy liefde. Ons weet dat ons by God bly en dat Hy by ons bly, want Hy het sy Gees vir ons gegee.
1 JOHANNES 4:5-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.
1 JOHANNES 4:5-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle behoort aan die wêreld, en wat hulle sê, is dus van die wêreld afkomstig, en die wêreld luister na hulle. Ons behoort aan God, en wie vir God ken, luister na ons; wie nie aan God behoort nie, luister nie na ons nie. Hieraan kan ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaalleer onderskei. Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee.
1 JOHANNES 4:5-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle is uit die wêreld, en daarom praat hulle soos die wêreld, en luister die wêreld na hulle. Ons is uit God, en wie God ken, luister na ons. Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit herken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling. Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly, en Hy in ons: Hy het ons aan sy Gees laat deel kry.
1 JOHANNES 4:5-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hulle is van die wêreld; daarom spreek hulle van die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; wie God ken, luister na ons; wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieraan ken ons die gees van waarheid en die gees van dwaling. Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want liefde is uit God; en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, ken God nie; want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, omdat God sy eniggebore Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde, nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit gesien nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, omdat Hy ons van sy Gees gegee het.
1 JOHANNES 4:5-13 Die Boodskap (DB)
Hierdie vals profete behoort aan hierdie wêreld. Dit is waarom alles wat hulle sê so wêrelds is en die wêreld so graag na hulle luister. Ons is kinders van God. Wie ook ’n kind van God is, luister na ons. Wie egter nie ’n kind van God is nie, luister nie na ons nie. So kan ons weet wanneer ons met die Gees van waarheid te doen het en wanneer die gees van bedrog en misleiding aan die werk is. My liewe vriende, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af. Aan liefde ken ’n mens die kinders van God uit, want hulle ken Hom goed. God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie. Goddelike liefde lyk só: God het sy unieke Seun na die wêreld gestuur om vir ons die ewige lewe te kom gee. Dit is dié soort liefde waarvan ek praat: dit gaan nie oor die liefde waarmee ons God liefhet nie. Nee, dit gaan oor die liefde waarmee God ons liefhet. Hierdie liefde het gemaak dat Hy sy Seun gestuur het met ’n doel: om te sorg dat al ons sondes vergewe word. Liewe vriende, God het vir ons gewys wat ware liefde is. Ons behoort mekaar ook so lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie. As ons egter mekaar liefhet, kan mense God in ons lewe sien. Sy liefde blom in ons soos Hy bedoel het dit moet wees. Dít is vir ons die bewys van die intieme verhouding wat tussen God en ons as sy kinders bestaan: God het sy Gees in ons laat werk.
1 JOHANNES 4:5-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierdie mense het die wêreld as oorsprong; daarom praat hulle uit ’n wêreldse oogpunt en luister die wêreld na hulle. Ons is egter van God afkomstig; daarom luister dié wat God persoonlik ken, na ons. Elkeen wat nie van God afkomstig is nie, luister nie na ons nie. Dít is hoe ons weet wie die Gees van die waarheid het, en wie die gees van misleiding het. Geliefdes, laat ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik. Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God liefde self is. Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang. Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem. Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê. Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons egter mekaar werklik aanhou liefhê, leef God in ons optrede en het sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom. Hieraan weet ons dat ons in ’n hegte verhouding met Hom leef en dat Hy ook in ’n hegte verhouding met ons leef: aan sy Gees wat Hy aan ons gegee het.