1 Konings 16:23-34

1 Konings 16:23-34 CAB23

In die een en dertig jaar van Asa, die koning van Juda, het Omri oor Israel koning geword, twaalf jaar; ses jaar het hy in Tirsa geregeer. En hy het die heuwel Samaría van Semer vir twee talente silwer gekoop en op die heuwel gebou en die stad wat hy gebou het, na die naam van Semer, eienaar van die heuwel, Samaria genoem. Maar Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en erger gedoen as almal wat voor hom was. Want hy het gewandel in die hele weg van Jeróbeam, die seun van Nebat, en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, met hulle nietige toorn te terg. En die res van die geskiedenis van Omri wat hy gedoen het en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe, en sy seun Agab het in sy plek geregeer. En in die agt en dertigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Agab, die seun van Omri, oor Israel geregeer; en Agab, die seun van Omri, het twee en twintig jaar oor Israel geregeer in Samaria. En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE bo almal wat voor hom was. En dit het gebeur, asof dit vir hom 'n ligte ding was om in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat te wandel, dat hy Isébel, die dogter van Etbaäl, die koning van die Sidoniërs, vir vrou geneem het en gegaan en Baäl gedien en hom aanbid. En hy het vir Baäl 'n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaria gebou het. En Agab het 'n bos gemaak; en Agab het meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel wat voor hom was. In sy dae het Hiël, die Beteliet, Jérigo gebou; hy het die fondament daarvan gelê in Abiram, sy eersgeborene, en sy poorte opgerig in sy jongste seun Segub, volgens die woord van die HERE wat hy gespreek het deur die diens van Josua, die seun van Nun.