1 KONINGS 16:23-34

1 KONINGS 16:23-34 Bybel vir almal (ABA)

Omri het koning van Israel geword in die een-en-dertigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Hy was twaalf jaar lank koning, ses jaar lank in Tirsa. Omri het Samaria-berg van Semer gekoop. Hy het vir Semer twee talente silwer daarvoor betaal en hy het daar 'n stad gebou. Hy het die stad Samaria genoem, dit was die naam van die man aan wie die berg behoort het. Omri het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het slegter dinge gedoen as almal voor hom. Hy het alles gedoen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het, al die sondes wat Jerobeam gedoen het en alles wat hy die mense van Israel laat doen het. Hulle het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak, want hulle het afgode gedien. Al die ander dinge wat Omri gedoen het, ook die belangrike dinge wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. Omri het gesterf, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Agab het koning geword ná hom. Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag-en-dertigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Agab was 22 jaar lank in Samaria koning van Israel. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het slegter dinge gedoen as almal voor hom. Hy het die sondes gedoen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het, en hy het ook getrou met Isebel, dogter van Etbaäl, koning van die Sidoniërs, en hy het vir Baäl gedien en voor hom gebuig. Agab het vir Baäl 'n altaar gebou by die tempel wat hy in Samaria vir Baäl gebou het. Hy het ook 'n gewyde paal ingeplant. Hy het meer sondes gedoen as al die konings van Israel vóór hom, sondes wat die Here, die God van Israel, kwaad gemaak het. In Agab se tyd het Giël van Bet-El die stad Jerigo weer gebou. Toe hy die fondamente van die stad bou, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die deure in die poorte insit, het sy jongste seun Segub gesterf. Dit het gebeur soos die Here voorheen vir Josua seun van Nun gesê het om vir die mense te sê.

1 KONINGS 16:23-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

In die een-en-dertigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Omri oor Israel koning geword, twaalf jaar lank; in Tirsa was hy ses jaar koning. En hy het die berg Samaría van Semer gekoop vir twee talente silwer en die berg bebou en die stad wat hy gebou het, Samaría genoem na die naam van Semer, die eienaar van die berg. En Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en meer kwaad gedoen as al sy voorgangers. Hy het naamlik gewandel in al die weë van Jeróbeam, die seun van Nebat, en in sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, te terg met hulle nietige afgode. En die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het, en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe; en sy seun Agab het in sy plek koning geword. EN Agab, die seun van Omri, het oor Israel koning geword in die agt-en-dertigste jaar van Asa, die koning van Juda; en Agab, die seun van Omri, het in Samaría oor Israel twee-en-twintig jaar geregeer. En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die HERE, meer as al sy voorgangers. En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig, en vir Baäl 'n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaría gebou het. Ook het Agab die heilige boomstam gemaak, en Agab het nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers. In sy dae het Hiël, van Bet-el, Jérigo opgebou; ten koste van Abíram, sy eersgeborene, het hy sy fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, sy poorte opgerig, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Josua, die seun van Nun, gespreek het.

1 KONINGS 16:23-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die een en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Omri koning geword van Israel. Hy het twaalf jaar geregeer, ses daarvan uit Tirsa. Toe het hy Samariaberg van Semer gekoop vir ag en sestig kilogram silwer en bo-op die berg gebou. Hy het die stad wat hy daar gebou het, Samaria genoem na die naam van Semer, die vorige eienaar van die berg. Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy was slegter as al sy voorgangers. Hy het die pad van Jerobeam seun van Nebat geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het, sodat hulle die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart het. Die ander verhale oor Omri, oor wat hy gedoen het en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel. Omri is oorlede, en hy is begrawe in Samaria. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg. Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda. Agab seun van Omri het Israel twee en twintig jaar uit Samaria geregeer. Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. Dat hy voortgegaan het met die sondes van Jerobeam seun van Nebat was nog die minste; hy het ook met Isebel dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs getrou en die god Baäl begin dien en hom aanbid. Hy het 'n altaar vir Baäl opgerig by die Baälstempel wat hy gebou het in Samaria. Agab het ook 'n gewyde paal opgerig en hy het meer gedoen om die Here die God van Israel uit te tart as al die konings van Israel voor hom. In daardie tyd het Giël van Bet-El die stad Jerigo opgebou. Toe hy die fondamente daarvan gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste, Segub, gesterf. Dit was in ooreenstemming met die vervloeking wat die Here deur Josua seun van Nun uitgespreek het.

1 KONINGS 16:23-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die een-en-dertigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Omri koning geword oor Israel, en twaalf jaar lank regeer. In Tirsa was hy ses jaar lank koning. Toe het hy die berg Samaria gekoop vir twee kikkar silwer by Semer. Hy het op die berg gebou, en die stad wat hy gebou het, Samaria genoem, na die naam van Semer, die eienaar van die berg. Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE; hy het meer kwaad aangerig as al sy voorgangers. Hy het die pad van Jerobeam, seun van Nebat, in alle opsigte gevolg en volhard met sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, deur die HERE, die God van Israel, te tart met hulle nietige afgode. Die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Omri het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Samaria begrawe. Sy seun Agab het in sy plek koning geword. Agab, seun van Omri, het koning geword oor Israel in die agt-en-dertigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda. Agab, seun van Omri, het twee-en-twintig jaar lank as koning geheers oor Israel in Samaria. Agab, seun van Omri, het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, meer nog as al sy voorgangers. En asof dit maar sommer 'n kleinigheid was om met die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, te volhard, neem hy toe as vrou Isebel, dogter van Etbaäl, die koning van die Sidoniërs. Hy het Baäl gaan dien en in aanbidding voor hom gebuig. Hy het vir Baäl 'n altaar opgerig in die tempel van Baäl wat hy in Samaria gebou het. Agab het ook 'n asjera gemaak. So het Agab meer gedoen om die HERE, die God van Israel, uit te tart as al die konings van Israel wat voor hom daar was. In sy regeringstyd het Giël, 'n man uit Bet-El, Jerigo herbou. Ten koste van Abiram, sy eersgeborene, het hy die fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, het hy die poortdeure opgerig. Dit was ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy by monde van Josua, seun van Nun, gespreek het.

1 KONINGS 16:23-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In die een en dertig jaar van Asa, die koning van Juda, het Omri oor Israel koning geword, twaalf jaar; ses jaar het hy in Tirsa geregeer. En hy het die heuwel Samaría van Semer vir twee talente silwer gekoop en op die heuwel gebou en die stad wat hy gebou het, na die naam van Semer, eienaar van die heuwel, Samaria genoem. Maar Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en erger gedoen as almal wat voor hom was. Want hy het gewandel in die hele weg van Jeróbeam, die seun van Nebat, en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, met hulle nietige toorn te terg. En die res van die geskiedenis van Omri wat hy gedoen het en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe, en sy seun Agab het in sy plek geregeer. En in die agt en dertigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Agab, die seun van Omri, oor Israel geregeer; en Agab, die seun van Omri, het twee en twintig jaar oor Israel geregeer in Samaria. En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE bo almal wat voor hom was. En dit het gebeur, asof dit vir hom 'n ligte ding was om in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat te wandel, dat hy Isébel, die dogter van Etbaäl, die koning van die Sidoniërs, vir vrou geneem het en gegaan en Baäl gedien en hom aanbid. En hy het vir Baäl 'n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaria gebou het. En Agab het 'n bos gemaak; en Agab het meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel wat voor hom was. In sy dae het Hiël, die Beteliet, Jérigo gebou; hy het die fondament daarvan gelê in Abiram, sy eersgeborene, en sy poorte opgerig in sy jongste seun Segub, volgens die woord van die HERE wat hy gespreek het deur die diens van Josua, die seun van Nun.

1 KONINGS 16:23-34 Die Boodskap (DB)

In die 31ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Omri koning van die hele Israel geword. Hy het ses jaar in Tirsa regeer, maar hy was altesaam twaalf jaar lank koning van Israel. Op ’n dag het hy Samariaberg vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het die berg heeltemal herbou en dit Samaria genoem ter ere van die vorige eienaar, Semer. Omri het baie verkeerde dinge voor die Here gedoen. Hy was selfs erger as sy voorgangers. Soos Jerobeam voor hom het Omri ook die Here se Naam groot oneer aangedoen. Hy het Israel verlei om ander gode te dien en die Here, die God van Israel, te vergeet. Oor alles wat Omri gedoen het en sy dapper optrede kan ’n mens verder in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings gaan lees. Omri het gesterf en hulle het hom in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom opgevolg. In die 38ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Agab die seun van Omri koning geword. Hy het in Samaria gewoon en 22 jaar daar regeer. Agab was selfs nog erger as sy voorgangers, want hy het die allerverskriklikste goed gedoen. Dit was al erg genoeg dat Agab soos Jerobeam gemaak het, maar toe loop trou hy ook nog met Isebel. Sy was die dogter van Etbaäl, die koning van Sidon. Agab het toe voor Baäl gebuig en hom aanbid. Hy het selfs in Samaria ’n tempel vir Baäl gebou en ook ’n altaar ter ere van hom opgerig. Verder het hy ’n beeld van die godin Asjera gemaak. Agab was lief vir al hierdie afgode. Hy het die Here soos nog geen ander koning voor hom beledig nie. In Agab se dae het Giël, ’n man uit Bet-El se omgewing, die stad Jerigo herbou. Nadat die fondamente gelê is, het Giël se oudste seun, Abiram, skielik gesterf. Toe hy met die poorte klaar was, is sy jongste, Segub, onverwags dood. Lank gelede al het die Here dit deur Josua die seun van Nun voorspel.

1 KONINGS 16:23-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Omri het in die 31ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het twaalf jaar regeer, ses daarvan in Tirsa. Omri het die Samariaheuwel vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het ’n stad bo-op die heuwel gebou en dit Samaria genoem ter ere van Semer, die vorige eienaar van die heuwel. Omri het egter gedoen wat verkeerd was vir die HERE, selfs nog meer as sy voorgangers. Hy het die voorbeeld van Jerobeam seun van Nebat nagevolg en voortgegaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het. Hulle het die HERE die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart. Die ander gebeurtenisse tydens Omri se regering, sy dapperheid en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. Toe Omri sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg. Agab seun van Omri het in die 38ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword van Israel. Hy het 22 jaar lank in Samaria regeer. Agab het egter gedoen wat verkeerd was vir die HERE, selfs meer as enige van die konings voor hom. Asof dit nie genoeg was nie, het hy met Isebel, die dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs, getrou en Baäl begin dien en aanbid. Eers het hy ’n tempel en ’n altaar vir Baäl in Samaria gebou. Daarna het hy ’n paal wat aan Asjera gewy is, opgerig. Hy het die HERE die God van Israel meer uitgetart as al die konings van Israel voor hom. Gedurende sy regering het Giël uit Bet-El die stad Jerigo herbou. Toe hy die fondamente gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf. Toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste seun, Segub, gesterf. Dit het gebeur net soos die woord van die HERE deur Josua seun van Nun lank tevore oor Jerigo gesê het.