I KONINGS 16:23-34

I KONINGS 16:23-34 AFR53

In die een-en-dertigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Omri oor Israel koning geword, twaalf jaar lank; in Tirsa was hy ses jaar koning. En hy het die berg Samaría van Semer gekoop vir twee talente silwer en die berg bebou en die stad wat hy gebou het, Samaría genoem na die naam van Semer, die eienaar van die berg. En Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en meer kwaad gedoen as al sy voorgangers. Hy het naamlik gewandel in al die weë van Jeróbeam, die seun van Nebat, en in sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, te terg met hulle nietige afgode. En die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het, en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe; en sy seun Agab het in sy plek koning geword. EN Agab, die seun van Omri, het oor Israel koning geword in die agt-en-dertigste jaar van Asa, die koning van Juda; en Agab, die seun van Omri, het in Samaría oor Israel twee-en-twintig jaar geregeer. En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die HERE, meer as al sy voorgangers. En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig, en vir Baäl 'n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaría gebou het. Ook het Agab die heilige boomstam gemaak, en Agab het nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers. In sy dae het Hiël, van Bet-el, Jérigo opgebou; ten koste van Abíram, sy eersgeborene, het hy sy fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, sy poorte opgerig, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Josua, die seun van Nun, gespreek het.