2 Konings 2 Konings 13
2 Konings 13
Die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam
1In die drie-en-twintigste jaar van Joas, die seun van Ahásia, die koning van Juda, het Joahas, die seun van Jehu, koning geword oor Israel in Samaria, en hy het sewentien jaar geregeer.
2En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gevolg wat Israel laat sondig het; hy het nie daarvan weggegaan nie.
3En die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle gegee in die hand van Hásael, die koning van Aram, en in die hand van Bénhadad, die seun van Hásael, al hulle dae.
4En Joahas het die HERE gesmeek, en die HERE het na hom geluister, want hy het die verdrukking van Israel gesien, omdat die koning van Aram hulle verdruk het.
5(En die HERE het Israel 'n verlosser gegee, sodat hulle onder die hand van die Arameërs uitgetrek het; en die kinders van Israel het in hulle tente gewoon soos tevore.
6Maar hulle het nie afgewyk van die sondes van die huis van Jeróbeam wat Israel laat sondig het nie, maar daarin gewandel; en daar het ook die bos in Samaria oorgebly.)
7Hy het ook nie van die volk aan Joahas oorgelaat nie, behalwe vyftig ruiters en tien strydwaens en tienduisend voetgangers; want die koning van Aram het hulle verdelg en hulle gemaak soos die stof deur te dors.
8En die verdere geskiedenis van Joahas en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
9En Jóahas het ontslaap met sy vaders; en hulle het hom in Samaría begrawe, en sy seun Joas het in sy plek geregeer.
10In die sewe en dertigste jaar van Joas, die koning van Juda, het Joas, die seun van Joahas, koning geword oor Israel in Samaria, en hy het sestien jaar geregeer.
11En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE; hy het nie afgewyk van al die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie; maar hy het daarin gewandel.
12En die verdere geskiedenis van Joas en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade waarmee hy geveg het teen Amásia, die koning van Juda, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
13En Joas het ontslaap met sy vaders; en Jeróbeam het op sy troon gaan sit, en Joas is by die konings van Israel in Samaría begrawe.
14En Elisa het siek geword van sy siekte waarvan hy gesterf het. En Joas, die koning van Israel, het na hom afgekom en oor sy aangesig geween en gesê: My vader, my vader, strydwa van Israel en sy ruiters!
15En Elísa sê vir hom: Neem pyl en boog. En hy het pyl en boog vir hom geneem.
16En hy sê aan die koning van Israel: Sit jou hand op die boog. En hy het sy hand daarop gelê, en Elísa het sy hande op die hande van die koning gelê.
17En hy sê: Maak die venster oop na die ooste. En hy het dit oopgemaak. Toe sê Elisa: Skiet! En hy het geskiet. En hy sê: Die pyl van die verlossing van die HERE en die pyl van verlossing uit Aram, want jy sal die Arameërs in Afek verslaan totdat jy hulle verteer het.
18En hy sê: Neem die pyle. En hy het hulle geneem. En hy het aan die koning van Israel gesê: Slaan op die grond. En hy het drie maal geslaan en gebly.
19En die man van God was kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses keer geslaan het; dan het jy Arameërs verslaan totdat jy dit verteer het; maar nou sal jy Arameërs maar drie maal verslaan.
20En Elisa het gesterwe, en hulle het hom begrawe. En die bendes van die Moabiete het die land binnegeval teen die aankoms van die jaar.
21En terwyl hulle besig was om 'n man te begrawe, kyk, het hulle 'n bende manne bespied; en hulle het die man in die graf van Elísa gegooi.
22Maar Hásael, die koning van Aram, het Israel verdruk al die dae van Joahas.
23En die HERE was hulle genadig en het medelye met hulle gehad en hulle ontferm vanweë sy verbond met Abraham, Isak en Jakob, en Hy wou hulle nie vernietig en hulle nog nie van sy aangesig verwerp nie.
24Toe het Hásael, die koning van Aram, gesterf; en sy seun Benhadad het in sy plek geregeer.
25En Joas, die seun van Joahas, het weer uit die hand van Benhadad, die seun van Hásael, die stede geneem wat hy uit die hand van sy vader Joahas in die oorlog geneem het. Drie maal het Joas hom geslaan en die stede van Israel teruggekry.
Tans Gekies:
2 Konings 2 Konings 13: CAB23
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
The Bible in Contemporary Afrikaans
Copyright © 2023, by City Bible Foundation ®
Used by permission of City Bible Foundation ® All rights reserved worldwide.