2 Samuel 2 Samuel 6

2 Samuel 6
Die ark van God op 'n nuwe wa gesit en na Jerusalem geneem
1Weer het Dawid al die uitverkore manne van Israel bymekaargemaak, dertigduisend.
2Dawid het hom klaargemaak en saam met die hele volk gegaan wat saam met hom was van Baäl van Juda af, om die ark van God, wie se naam die Naam van die HERE van die leërskare is, wat tussen die gérubs woon, daarvandaan op te bring.
3En hulle het die ark van God op 'n nuwe wa gesit en dit uit die huis van Abinadab wat in Gíbea was, gebring; en Ussa en Ahjo, die seuns van Abinadab, het die nuwe wa aangery.
4En hulle het dit uit die huis van Abinadab gebring wat by Gíbea was, saam met die ark van God; en Ahjo het voor die ark uit gegaan.
5En Dawid en die hele huis van Israel het voor die aangesig van die HERE gespeel op allerhande instrumente van sipreshout, op siters en op harpe en op tamboere en op kornete en op simbale.
6En toe hulle by Nagon se dorsvloer kom, het Ussa sy hand na die ark van God uitgesteek en dit gegryp; want die osse het dit geskud.
7En die toorn van die HERE het teen Ussa ontvlam; en God het hom daar weens sy dwaling geslaan; en daar het hy gesterf by die ark van God.
8En Dawid was ontevrede, omdat die HERE 'n breuk in Ussa gemaak het; en hy het die plek Perezussa genoem tot vandag toe.
9En Dawid het daardie dag vir die HERE bevrees en gesê: Hoe sal die ark van die HERE na my toe kom?
10Dawid wou dan nie die ark van die HERE vir hom na die stad van Dawid bring nie; maar Dawid het dit eenkant toe gebring na die huis van Obed-Edom, die Gittiet.
11En die ark van die HERE het drie maande in die huis van Obed-Edom, die Gittiet, gebly, en die HERE het Obed-Edom en sy hele huisgesin geseën.
12En daar is aan koning Dawid meegedeel en gesê: Die HERE het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God. Toe het Dawid gegaan en die ark van God met blydskap uit die huis van Obed-Edom na die stad van Dawid gebring.
13En toe die draers van die ark van die HERE ses treë geloop het, het hy beeste en vetgemaakte diere geoffer.
14En Dawid het met al sy krag voor die aangesig van die HERE gedans; en Dawid was omgord met 'n linneskouerkleed.
15Dawid en die hele huis van Israel het toe die ark van die HERE opgebring met gejuig en met geklank van die basuin.
16En toe die ark van die HERE in die stad van Dawid kom, het Migal Saul se dogter deur 'n venster gekyk en koning Dawid sien spring en dans voor die aangesig van die HERE; en sy het hom in haar hart verag.
17En hulle het die ark van die HERE ingebring en dit op sy plek neergesit, in die middel van die tabernakel wat Dawid daarvoor opgeslaan het; en Dawid het brandoffers en dankoffers voor die aangesig van die HERE gebring.
18En toe Dawid klaar gemaak het met die aanbieding van brandoffers en dankoffers, het hy die volk geseën in die Naam van die HERE van die leërskare.
19En hy het onder die hele volk, onder die hele menigte van Israel, sowel aan die vroue as mans, aan elkeen 'n koek brood en 'n lekker stuk vleis en 'n fles wyn uitgedeel. Toe het die hele volk elkeen na sy huis gegaan.
20Dawid het toe teruggekeer om sy huisgesin te seën. En Migal, die dogter van Saul, het uitgegaan Dawid tegemoet en gesê: Hoe heerlik was die koning van Israel vandag, wat hom vandag ontbloot het voor die oë van die slavinne van sy dienaars, soos een van die nietige manne homself onbeskaamd ontbloot!
21Toe sê Dawid vir Migal: Dit was voor die aangesig van die HERE wat my voor jou vader en voor sy hele huis uitverkies het om my as owerste oor die volk van die HERE oor Israel aan te stel; daarom sal ek voor die aangesig van die HERE speel.
22En ek sal nog walgliker wees as so, en sal gering wees in my eie oë; en van die slavinne waarvan jy gespreek het, van hulle sal ek geëer word.
23Daarom het Migal, die dogter van Saul, geen kind gehad tot die dag van haar dood nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan