Hebreërs 8:7-13

Hebreërs 8:7-13 CAB23

Want as daardie eerste verbond onberispelik was, sou daar vir die tweede geen plek gesoek gewees het nie. Omdat Hy met hulle skuld gevind het, sê Hy: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek 'n nuwe verbond sal sluit met die huis van Israel en met die huis van Juda. Nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; omdat hulle nie in my verbond gebly het nie, en Ek het nie op hulle ag geslaan nie, spreek die Here. Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here; Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit in hulle harte skrywe; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. En hulle sal nie elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer deur te sê: Ken die Here nie, want almal sal My ken, van klein tot groot. Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtigheid, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nie meer dink nie. Deurdat Hy sê: 'n Nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak. Nou is dit wat vergaan en oud word, gereed om te verdwyn.