HEBREËRS 8:7-13
HEBREËRS 8:7-13 Bybel vir almal (ABA)
Daar moes 'n tweede verbond kom, want die eerste verbond het nie alles gedoen wat dit moes doen nie. Want God was ontevrede met sy volk, Hy het gesê: Daar sal 'n tyd kom, sê die Here, wanneer Ek 'n nuwe verbond sal maak met die mense van Israel en die mense van Juda. Hierdie verbond sal nie wees soos die verbond wat Ek gemaak het met hulle voorvaders nie. Ek het daardie verbond gemaak op die dag toe Ek hulle hand geneem het om hulle uit die land Egipte te bring. Maar hulle het my verbond gebreek, daarom het Ek hulle weggegooi, sê die Here. Want die verbond wat Ek later met die Israeliete sal maak, sal só wees, sê die Here: Ek sal my wette op hulle harte skryf en dit sal binne-in hulle wees. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. Hulle sal nie meer vir mekaar leer of sê: “Jy moet die Here ken” nie. Hulle almal sal My ken, onbelangrike en belangrike mense, want Ek sal die dinge vergewe wat hulle verkeerd gedoen het, Ek sal nie meer dink aan hulle sondes nie. God het gepraat van 'n “nuwe” verbond, en so het Hy gesê dat die eerste verbond nou die “ou verbond” is. Wanneer iets oud word en oud is, dan sal dit gou verdwyn.
HEBREËRS 8:7-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir 'n tweede gesoek word nie. Want Hy berispe hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond tot stand sal bring, nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here. Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle. Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie. As Hy sê 'n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.
HEBREËRS 8:7-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie. Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê: “Kyk, daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie, want hulle het nie my verbond gehou nie, en Ek het hulle verwerp, sê die Here. Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. Dan hoef niemand meer sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie. Hulle almal, klein en groot, sal My ken. Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn.
HEBREËRS 8:7-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want as daardie eerste een foutloos was, sou daar nie behoefte gewees het aan 'n tweede een nie. Hy vind inderdaad fout met hulle wanneer Hy sê: “Kyk daar kom dae, sê die Here, dat Ek met die huis van Israel en met die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het op die dag toe Ek hulle met my hand gegryp het om hulle uit Egipte uit te lei nie; want hulle het nie by my verbond gebly nie, en Ek het hulle geïgnoreer, sê die Here. Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee, en op hulle harte sal Ek dit neerskryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Niemand sal meer sy medeburger of sy broer onderrig en sê, ‘Ken die Here!’ nie, omdat hulle almal My sal ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle. Ek sal genadig wees oor hulle ongeregtighede, en aan hulle sondes sal Ek glad nie meer dink nie. ” Deur te praat van 'n nuwe verbond, het Hy die eerste een verouderd verklaar. En wat verouderd verklaar en afgeleef is, is naby aan verdwyning.
HEBREËRS 8:7-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want as daardie eerste verbond onberispelik was, sou daar vir die tweede geen plek gesoek gewees het nie. Omdat Hy met hulle skuld gevind het, sê Hy: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek 'n nuwe verbond sal sluit met die huis van Israel en met die huis van Juda. Nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; omdat hulle nie in my verbond gebly het nie, en Ek het nie op hulle ag geslaan nie, spreek die Here. Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here; Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit in hulle harte skrywe; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. En hulle sal nie elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer deur te sê: Ken die Here nie, want almal sal My ken, van klein tot groot. Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtigheid, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nie meer dink nie. Deurdat Hy sê: 'n Nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak. Nou is dit wat vergaan en oud word, gereed om te verdwyn.
HEBREËRS 8:7-13 Die Boodskap (DB)
As die eerste ooreenkoms volledig en sonder probleme was, sou ’n tweede een mos nie nodig gewees het nie. Dat alles nie met die eerste ooreenkoms reg verloop het nie, kan ons daarin sien dat God ontevrede met sy mense was. Luister wat het Hy gesê: “Die tyd sal kom wanneer Ek ’n nuwe ooreenkoms met die mense van Israel en Juda sal maak. Dit sal heeltemal anders wees as die ooreenkoms wat Ek met hulle voorgeslagte gemaak het. Ek praat van die ooreenkoms wat Ek met hulle gemaak het toe Ek hulle veilig uit Egipte uitgelei het. Maar hulle het nie hulle deel van die ooreenkoms nagekom nie. Daarom het Ek ook nie meer my deel van die ooreenkoms nagekom nie en my rug vir hulle gedraai.” Dit het die Here gesê. Maar die Here het verder gegaan: “Ek sal in die toekoms ’n nuwe ooreenkoms met my mense maak. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak. Ek sal vir hulle hulle God wees en hulle sal my mense wees. Dit sal nie meer vir hulle nodig wees om onder mekaar te sê nie: ‘Jy moet meer erns maak om die Here te leer ken.’ Hulle almal sal My persoonlik ken, klein en groot. Ek sal al die dinge oorsien wat hulle verkeerd gedoen het en hulle foute sal My nie meer pla nie.” As God so praat oor die nuwe ooreenkoms, beteken dit mos dat die ou ooreenkoms verby is. As dit verby is, hoef ’n mens jou mos nie meer daaraan te steur nie. Net ’n rukkie, dan dink mense nie meer daaraan nie.
HEBREËRS 8:7-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As die eerste verbond perfek gewerk het, sou daar geen behoefte aan ’n tweede een gewees het nie. God kritiseer die volk hieroor wanneer Hy verklaar: “Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. Dit sal anders wees as die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uitgelei het uit Egipte. Hulle het nie aan my verbond getrou gebly nie; en Ek het my rug op hulle gedraai. Dít is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel gaan sluit, verklaar die Here: Ek sal my opdragte inskryf in hulle verstand en Ek sal dit in hulle harte graveer. Ek sal hulle God wees en hulle sal mý volk wees. En hulle sal nie nodig hê om elkeen sy medeburger te onderrig en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here leer ken’ nie. Want elkeen van hulle, van die kleinste tot die grootste, sal My ken. Ek sal My ontferm oor hulle ongeregtighede en Ek sal nooit weer aan hulle sondes dink nie.” Deur van ’n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar. En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal afgeskaf te word.