Hebreërs 8:7-13

Hebreërs 8:7-13 AFR20

Want as daardie eerste een foutloos was, sou daar nie behoefte gewees het aan 'n tweede een nie. Hy vind inderdaad fout met hulle wanneer Hy sê: “Kyk daar kom dae, sê die Here, dat Ek met die huis van Israel en met die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het op die dag toe Ek hulle met my hand gegryp het om hulle uit Egipte uit te lei nie; want hulle het nie by my verbond gebly nie, en Ek het hulle geïgnoreer, sê die Here. Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee, en op hulle harte sal Ek dit neerskryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Niemand sal meer sy medeburger of sy broer onderrig en sê, ‘Ken die Here!’ nie, omdat hulle almal My sal ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle. Ek sal genadig wees oor hulle ongeregtighede, en aan hulle sondes sal Ek glad nie meer dink nie. ” Deur te praat van 'n nuwe verbond, het Hy die eerste een verouderd verklaar. En wat verouderd verklaar en afgeleef is, is naby aan verdwyning.