Hebreërs 8

8
Hoëpriester van 'n uitnemender verbond
1Die hoofsaak van wat gesê is, is dat ons só 'n Hoëpriester het: Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemele, 2'n bedienaar in die heiligdom, ja, in die ware •tabernakel wat die Here, nie 'n mens nie, opgerig het. 3Elke hoëpriester word tog aangestel om gawes en offers te bring. Daarom was dit noodsaaklik dat ook Hy iets moes hê om te offer. 4As Hy dan op aarde was, sou Hy nie 'n priester gewees het nie, aangesien daar priesters is wat die gawes volgens wet bring. 5Hulle bediening is 'n afbeelding en afskaduwing van die hemelse, net soos die goddelike opdrag wat Moses ontvang het toe hy die ware tabernakel moes oprig, en God vir hom gesê het: “Let op dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat vir jou op die berg gewys is.” 6Maar nou het Jesus 'n meer verhewe bediening verkry, in dié sin dat Hy ook Middelaar is van 'n uitnemender verbond, wat op grond van uitnemender beloftes regsgeldigheid verkry het.
7Want as daardie eerste een foutloos was, sou daar nie behoefte gewees het aan 'n tweede een nie. 8Hy vind inderdaad fout met hulle wanneer Hy sê:
“Kyk daar kom dae, sê die Here,
dat Ek met die huis van Israel
en met die huis van Juda
'n nuwe verbond sal sluit.
9Dit sal nie wees soos die verbond
wat Ek met hulle voorouers gesluit het
op die dag toe Ek hulle
met my hand gegryp het
om hulle uit Egipte uit te lei nie;
want hulle het nie by my verbond gebly nie,
en Ek het hulle geïgnoreer,
sê die Here.
10 Dit is dan die verbond
wat Ek ná daardie dae
met die huis van Israel sal sluit,
sê die Here:
Ek sal my wette in hulle verstand gee,
en op hulle harte sal Ek dit neerskryf.
Ek sal vir hulle 'n God wees,
en hulle sal vir My 'n volk wees.
11Niemand sal meer sy medeburger
of sy broer onderrig en sê,
‘Ken die Here!’ nie,
omdat hulle almal My sal ken,
van die kleinste tot die
grootste onder hulle.
12Ek sal genadig wees
oor hulle ongeregtighede,
en aan hulle sondes
sal Ek glad nie meer dink nie. ”
13Deur te praat van 'n nuwe verbond, het Hy die eerste een verouderd verklaar. En wat verouderd verklaar en afgeleef is, is naby aan verdwyning.

Tans Gekies:

Hebreërs 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan