Johannes 3:22-36

Johannes 3:22-36 CAB23

Na hierdie dinge het Jesus en sy dissipels na die land Judéa gekom; en hy het daar by hulle vertoef en gedoop. En Johannes was ook besig om te doop in Aenon naby Salim, omdat daar baie water was; en hulle het gekom en is gedoop. Want Johannes was nog nie in die tronk gegooi nie. Toe het daar 'n vraag ontstaan tussen sommige van Johannes se dissipels en die Jode oor reiniging. En hulle het by Johannes gekom en vir hom gesê: Rabbi, hy wat saam met u anderkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, hy doop, en almal kom na hom. Johannes antwoord en sê: 'n Mens kan niks ontvang as dit nie aan hom uit die hemel gegee word nie. Julle getuig self vir my dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie, maar dat ek voor Hom uitgestuur is. Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat staan en na hom luister, is baie bly oor die stem van die bruidegom; dan is hierdie blydskap van my vervul. Hy moet meer word, maar ek moet minder word. Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat van die aarde is, is aards en spreek van die aarde; hy wat uit die hemel kom, is bo almal. En wat hy gesien en gehoor het, dit getuig hy; en niemand ontvang sy getuienis nie. Hy wat sy getuienis ontvang het, het sy seël gesit dat God waaragtig is. Want hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God, want God gee die Gees aan hom nie met mate nie. Die Vader het die Seun lief en het alles in Sy hand gegee. Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; en wie die Seun nie glo nie, sal die lewe nie sien nie; maar die toorn van God bly op hom.

Video vir Johannes 3:22-36