Miga 7:8-13
Miga 7:8-13 CAB23
Wees nie bly teen my nie, o my vyand; as ek val, sal ek opstaan; as ek in duisternis sit, sal die HERE vir my 'n lig wees. Ek sal die grimmigheid van die HERE dra, omdat ek teen hom gesondig het, totdat Hy my saak verdedig en vir my regspraak hou; Hy sal my na die lig uitbring, en ek sal sy geregtigheid aanskou. Dan sal sy wat my vyand is, dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my gesê het: Waar is die HERE jou God? my oë sal haar aanskou; nou sal sy vertrap word soos die modder van die strate. Op die dag dat jou mure gebou moet word, in dié dag sal die besluit ver verwyder word. In dié dag sal hy ook na jou toe kom van Assirië en van die versterkte stede en van die vesting tot by die rivier, en van see tot see en van berg tot berg. Maar die land sal 'n wildernis wees vanweë die wat daarin woon, vanweë die vrug van hulle handelinge.





