Openbaring 8:1-8
Openbaring 8:1-8 CAB23
En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, was daar stilte in die hemel omtrent 'n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God gestaan het; en aan hulle is sewe basuine gegee. En 'n ander engel het gekom en by die altaar gaan staan met 'n goue wierookbak; en baie reukwerk is aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die heiliges te bring op die goue altaar wat voor die troon was. En die rook van die reukwerk wat saam met die gebede van die heiliges gekom het, het uit die hand van die engel voor God opgestyg. En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar gevul en dit op die aarde gegooi, en daar was stemme en donderslae en weerligstrale en 'n aardbewing. En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas. Die eerste engel het geblaas, en hael en vuur het met bloed gemeng gevolg, en dit is op die aarde gegooi, en die derde deel van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand. En die tweede engel het geblaas, en soos 'n groot berg wat brand van vuur is in die see gegooi, en die derde deel van die see het bloed geword;



