DIE OPENBARING 8:1-8 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

DIE OPENBARING 8:1-8 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe die Lam die sewende seël oopmaak, het daar stilte in die hemel gekom, omtrent 'n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en daar is aan hulle sewe trompette gegee. 'n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met 'n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en 'n aardbewing gekom. Die sewe engele met die sewe trompette het hulle toe gereed gemaak om daarop te blaas. Die eerste engel het op sy trompet geblaas. Daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. 'n Derde van die aarde is verbrand, 'n derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand. Die tweede engel het toe op sy trompet geblaas. Iets soos 'n groot berg wat brand, is in die see gegooi. 'n Derde van die see het bloed geword

DIE OPENBARING 8:1-8 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent 'n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee. En 'n ander engel het gekom en met 'n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God. En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing. En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas. En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En 'n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand. En die tweede engel het geblaas, en iets soos 'n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En 'n derde van die see het bloed geword

DIE OPENBARING 8:1-8 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe die Lam die sewende seël oopbreek, het daar stilte in die hemel neergedaal, ongeveer ’n halfuur lank. Ek het toe die sewe engele gesien wat voor God stelling inneem. Aan hulle is sewe trompette gegee. ’n Ander engel het nadergekom en by die altaar gaan staan. Hy het ’n goue wierookbak vasgehou. Baie reukwerk is aan hom gegee om dit te meng met die gebede van almal wat aan God toegewy is, en om dit te offer op die goue altaar wat voor die troon staan. Die rookwolk van die reukwerk wat deur die engel geoffer is, is gemeng met die gebede van hulle wat aan God toegewy is, en het opgestyg voor God. Toe het die engel die wierookbak geneem, dit vol gemaak met die vuur van die altaar af en dit op die aarde uitgegooi. Donderslae, rammelinge, weerligstrale en ’n aardbewing het toe daarop gevolg. Die sewe engele wat die sewe trompette vasgehou het, het hulle klaargemaak om daarop te blaas. Die eerste engel het op sy trompet geblaas en hael en vuur vermeng met bloed is op die aarde gestort. ’n Derde van die aarde is verskroei. ’n Derde van die bome is verskroei en al die groen gras is verbrand. Die tweede engel het op sy trompet geblaas en iets soos ’n hoë berg wat aan die brand is, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword.

DIE OPENBARING 8:1-8 DB (Die Boodskap)

Toe maak die Lam die sewende seël oop. ’n Halfuur lank was dit doodstil in die hemel. Toe val my oog op sewe engele wat voor God staan. God gee toe vir hulle elkeen ’n trompet. ’n Ander engel verskyn toe ook op die toneel. Hierdie engel het ’n goue bak vasgehou en by die altaar gaan staan. ’n Klomp wierook, wat baie lekker ruik, is vir die engel gegee. Dit is saam met die gebede van al God se mense op die goue altaar gesit. Die altaar het reg voor God gestaan. Die heerlikste geur van die wierook het saam met die gebede van God se mense die ruimte by God gevul. Dit het uit die mengsel gekom wat die engel met sy hande gemaak het. Die engel maak toe die bak vol met brandende kole van die altaar af. Hy keer dit toe op die aarde om met merkwaardige gevolg. Blitse het geslaan, die donder het gedreun, mense het geskree en die aarde het gebewe. Nadat die sewe engele hulle trompette reggekry het, het die eerste een op sy trompet geblaas. ’n Reënbui van hael en vuur, gemeng met bloed, het losgebars. Vure het oral uitgebreek. In die woeste brand is ’n derde van die aarde afgebrand. Daar het nie ’n grashalmpie oorgebly nie en ’n derde van die woude het in die slag gebly. Toe blaas die tweede engel op sy trompet. Ek het ’n groot berg vlamme gesien. Dit is in die see gegooi. Dit was vernietigend.

DIE OPENBARING 8:1-8 ABA (Bybel vir almal)

Toe die Lam die sewende seël van die boekrol breek, was dit 'n halfuur lank stil in die hemel. Toe sien ek die sewe engele wat altyd voor God staan. God het vir hulle sewe trompette gegee. En 'n ander engel het gekom en hy het by die altaar in die hemel gaan staan. Hy het 'n goue wierook-pan gehad. Hy het baie wierook gekry. Hy moes die wierook offer saam met die gebede van almal wat aan God behoort. Hy moes dit offer op die goue altaar wat voor die troon van God is. Die rook van die wierook en die gebede van al die mense wat aan God behoort, het opgegaan van die wierook-pan in die engel se hand, dit het opgegaan voor God. Toe het die engel die wierook-pan geneem. Hy het vuur van die altaar geneem en hy het die wierook-pan vol vuur gemaak. Toe het hy die vuur op die aarde gegooi, en daar was baie donderweer en weerlig en 'n aardbewing, dit het baie geraas. En die sewe engele wat die sewe trompette het, het gereedgemaak om die trompette te blaas. Die eerste engel het sy trompet geblaas. Toe val daar hael en vuur op die aarde, saam met bloed. Een derde van die aarde het verbrand, een derde van die bome het verbrand en al die groen gras het verbrand. Die tweede engel het sy trompet geblaas. Ek het iets gesien wat lyk soos 'n groot berg wat brand en wat vol vuur is. Dit het op die see geval, en een derde van die see het bloed geword.

DIE OPENBARING 8:1-8 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

En toe die Lam die sewende seël oopbreek, het daar vir ongeveer 'n halfuur lank stilte in die hemel neergedaal. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en aan hulle is sewe trompette gegee. 'n Ander engel het nader gekom met 'n goue wierookbak, en by die altaar gaan staan. Baie reukwerk is aan hom gegee om, saam met die gebede van al die heiliges, op die goue altaar voor die troon te gaan offer. Die rook van die reukwerk het, saam met die gebede van die heiliges, uit die engel se hand voor God opgestyg. Die engel het toe die wierookbak geneem, dit met vuur van die altaar af gevul, en dit op die aarde uitgegooi. En daar was donderslae, dreunings, weerligstrale en 'n aardbewing. Die sewe engele met die sewe trompette het gereedgemaak om daarop te blaas. Die eerste een het op sy trompet geblaas, en daar was hael en vuur, gemeng met bloed, en dit is op die aarde uitgegooi. 'n Derde van die aarde is verskroei, 'n derde van die bome is verskroei, en al die groen gras is verbrand. Die tweede engel het op sy trompet geblaas, en iets soos 'n enorme berg, wat vlammend brand, is in die see gegooi. 'n Derde van die see het bloed geword

DIE OPENBARING 8:1-8 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, was daar stilte in die hemel omtrent 'n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God gestaan het; en aan hulle is sewe basuine gegee. En 'n ander engel het gekom en by die altaar gaan staan met 'n goue wierookbak; en baie reukwerk is aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die heiliges te bring op die goue altaar wat voor die troon was. En die rook van die reukwerk wat saam met die gebede van die heiliges gekom het, het uit die hand van die engel voor God opgestyg. En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar gevul en dit op die aarde gegooi, en daar was stemme en donderslae en weerligstrale en 'n aardbewing. En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas. Die eerste engel het geblaas, en hael en vuur het met bloed gemeng gevolg, en dit is op die aarde gegooi, en die derde deel van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand. En die tweede engel het geblaas, en soos 'n groot berg wat brand van vuur is in die see gegooi, en die derde deel van die see het bloed geword