I KRONIEKE 20

20
1 EN ná verloop van 'n jaar, teen die tyd dat die konings uittrek, het Joab die leërmag aangevoer en die land van die kinders van Ammon verwoes; hy het ook gekom en Rabba beleër, terwyl Dawid in Jerusalem gebly het. En Joab het Rabba verslaan en dit afgebreek.
2En Dawid het die kroon van Milkom van sy hoof afgeneem en bevind dat die gewig daarvan 'n talent goud was; en daarin was 'n kosbare steen, en dit het op die hoof van Dawid gekom; en hy het 'n baie groot buit van die stad uitgebring.
3Hy het ook die bevolking wat daarin was, uitgebring en hulle met die saag laat saag, en met ysterpenne en met byle laat werk; en so het Dawid gedoen met al die stede van die kinders van Ammon. Toe het Dawid met al die manskappe na Jerusalem teruggegaan.
Ander oorwinnings oor die Filistyne.
4 EN daarna het daar by Geser oorlog ontstaan met die Filistyne; toe het Síbbegai, die Husatiet, Síppai, uit die kinders van die Refaïete verslaan, sodat hulle onderworpe geraak het.
5En daar was weer oorlog met die Filistyne; en Élhanan, die seun van Jaïr, het Lagmi, die broer van Góliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos 'n wewersbalk was, verslaan.
6En daar was weer oorlog by Gat, en daar was 'n baie lang man met ses vingers aan elke hand en voet, vier-en-twintig; en hy was ook 'n afstammeling van die Refaïete.
7En hy het Israel uitgedaag, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van Dawid, het hom verslaan.
8Hulle was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan