II KRONIEKE 4

4
Die koperaltaar vir die brandoffer en ander gereedskap van die tempel.
1VERDER het hy 'n koperaltaar gemaak; twintig el was sy lengte en twintig el sy breedte en tien el sy hoogte.
2 Hy het ook die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was tien el, heeltemal rond; en die hoogte daarvan was vyf el, en 'n lyn van dertig el kon dit rondom omspan.
3En daar onderaan het afbeeldings van kolokwinte dit heeltemal rondom omring — tien op 'n el; hulle het die see rondom omgewe, twee rye kolokwinte, daarmee saam uit een stuk gegiet.
4Dit het gestaan op twaalf beeste: drie kyk na die noorde, en drie kyk na die weste, en drie kyk na die suide, en drie kyk na die ooste toe; en die see was bo-op hulle, en al hulle agterdele binnekant toe.
5En die dikte daarvan was 'n handbreedte, en sy rand was in die vorm van 'n bekerrand, soos 'n lelieblom; wat die inhoud betref, het dit drieduisend bat gehou.
6En hy het tien waskomme gemaak en vyf regs en vyf links gesit om in te was; die gereedskap van die brandoffer moes hulle daarin afspoel, maar die see was vir die priesters om daarin te was.
7En hy het die goue kandelaars gemaak, tien, volgens die voorskrif daarvan, en dit in die tempel gesit, vyf regs en vyf links.
8Hy het ook tien tafels gemaak en hulle in die tempel gesit, vyf regs en vyf links; en hy het honderd goue komme gemaak.
9Verder het hy die voorhof van die priesters gemaak en die groot voorhof en die deure vir die voorhof; en die deure daarvan het hy met koper oorgetrek.
10En die see het hy aan die suidekant opgestel, teen die ooste na die suide toe.
11 Verder het Huram die potte en die skoppe en die komme gemaak; en Huram het die werk voltooi wat hy vir koning Salomo in die huis van God gedoen het:
12twee pilare met die bolle en die kapitele op die top van die twee pilare en die twee stukke vlegwerk om die twee bolle van die kapitele wat op die top van die pilare was, te bedek;
13en die vierhonderd granaatjies vir die twee stukke vlegwerk, twee rye granaatjies vir elke vlegwerk om die twee bolle van die kapitele bo-op die pilare te oordek.
14En hy het die afspoelwaentjies gemaak en die bakke op die afspoelwaentjies gemaak;
15en die een see en die twaalf beeste daaronder;
16en die potte en die skoppe en die vurke en al die daarby behorende gereedskap het Huram Abiw vir koning Salomo ten behoewe van die huis van die Here van gepolyste koper gemaak.
17In die Jordaanstreek waar die grond diep was, tussen Sukkot en Seréda, het die koning dit gegiet.
18En Salomo het al hierdie voorwerpe in 'n oorgroot menigte gemaak, want die gewig van die koper was onberekenbaar.
19En Salomo het al die voorwerpe gemaak wat in die huis van God was: die goue altaar en die tafels waar die toonbrode op moes lê,
20en die kandelaars met hulle lampe om volgens voorskrif voor die binneste vertrek te brand, van fyn goud,
21en die blomwerk en die lampe en die snuiters van goud; dit was die suiwerste goud;
22en die messe en die komme en die rookpanne en die vuurpanne van fyn goud; en wat die ingang van die huis betref, die binnedeure daarvan na die Allerheiligste en die deure van die huis na die hoofvertrek was van goud.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan