HOSÉA 10
10
Verwoesting van Efraim se heiligdomme en die val van sy koning.
1ISRAEL was 'n weelderig uitbottende wynstok wat sy vrug voortgebring het; hoe meer vrug hy gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak.
2Vals is hulle hart; nou sal hulle daarvoor boet; Hy sal hulle altare stukkend breek, hulle klippilare verwoes.
3Ja, nou sal hulle sê: Ons het geen koning nie, want ons het die Here nie gevrees nie; en die koning — wat sou hy vir ons kan doen?
4Hulle het groot woorde gespreek, vals gesweer, verbonde gesluit — en soos 'n gifplant spruit die oordeel uit in die vore van die landerye.
5Oor die kalf van Bet-Awen sal die inwoners van Samaría besorg wees; want sy volk sal oor hom treur en sy afgodspriesters oor hom sidder, oor sy heerlikheid, omdat dit van hom weggevoer is.
6 Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb; skaamte sal Efraim aangryp, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raadsbesluit.
7Samaría word vernietig, sy koning is soos 'n spaander op die water.
8En die hoogtes van Awen, Israel se sonde, word verdelg, dorings en distels sal opskiet op hulle altare; en hulle sal tot die berge sê: Bedek ons! en tot die heuwels: Val op ons!
9 Sedert die dae van Gíbea het jy gesondig, o Israel! Daar staan hulle — moet die stryd teen die kwaaddoeners hulle nie oorval in Gíbea nie?
10Dit is my begeerte om hulle te tugtig, en volke sal teen hulle versamel word as hulle gebind word aan hulle twee ongeregtighede.
11Maar Efraim is 'n geleerde jong koei wat gewillig dors; nogtans sal Ek self oor haar mooi nek gaan: Ek sal Efraim laat trek; Juda sal die ploeg trek, Jakob sal die eg sleep.
12 Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.
13Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde.
14Daarom sal daar oorlogsrumoer onder jou volke ontstaan en al jou vestings verwoes word net soos Salman Bet-Arbel verwoes het in die dag van oorlog: moeders is met kinders en al verpletter.
15Net so het Bet-el aan julle gedoen weens julle ontsettende boosheid; in die môre vroeg is dit gedaan, gedaan met die koning van Israel.
Tans Gekies:
HOSÉA 10: AFR53
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.