JOHANNES 10:1-10

JOHANNES 10:1-10 AFR53

VOORWAAR, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim, hy is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is 'n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie. Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie. Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Video vir JOHANNES 10:1-10