JOHANNES 10:1-10
JOHANNES 10:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie nie by die hek van die kraal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim – daardie man is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat by die hek ingaan, is 'n herder van die skape; vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van vreemdes nie ken nie.” Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel, maar hulle het nie begryp wat Hy vir hulle sê nie. Jesus het toe weer gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek is die deur vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; die skape het egter nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed.
JOHANNES 10:1-10 Die Boodskap (DB)
“Luister nou mooi. Ek gaan vir julle ’n voorbeeld gee om julle te help om beter te verstaan wat Ek wil sê. Julle weet mos hoe dit met ’n skaapboerdery gaan. As iemand skelm in die kraal probeer inkom en nie die hek gebruik nie, wil hy net kom kwaaddoen. Net ’n dief doen dit! Die herder sal die hek gebruik om in die kraal in te gaan. “Die wag by die hek sal dit dadelik vir hom oopmaak. In die kraal sal hy sy skape bymekaarmaak. Hy sal hulle op hulle name roep en hulle sal kom. Dan sal hy hulle uit die kraal lei. “Hy sal voor hulle uitstap weiveld toe en hulle sal agternakom, want hulle ken sy stem. Hulle sal egter nie agter vreemdelinge aanloop nie. Hulle sal eerder weghardloop, want hulle ken nie die vreemdeling se stem nie.” Hoewel Jesus hierdie eenvoudige voorbeeld gebruik het, het die Joodse leiers nog steeds nie gesnap wat Hy bedoel nie. “Laat Ek dit nog eenvoudiger stel. Julle kan My met die hek van die skaapkraal vergelyk. Sê My, wat is die enigste regte manier om in die kraal in te kom? Natuurlik deur die hek. “En die enigste regte manier om na God toe te kom? Natuurlik deur My! “Al die ander wat voor My gekom het, het mense op die verkeerde pad gelei. Hulle is soos diewe wat mense net wou kul. Hulle het kamma redding kom aanbied, maar God se kinders het nie na hulle geluister nie. Ek is vir julle soos ’n hek vir die skape. Ek is die hek deur wie julle na die weivelde van vrede en vriendskap met God kan stap. Deur My kry julle alles wat julle geestelik nodig het. Enigiemand wat sê dat julle op ’n ander manier by God kan uitkom, gaan julle net op ’n pynlike pad sit; die pad hel toe! Ek is hier om vir julle die kans te gee om altyd by God te wees. By Hom sal julle die lewe voluit kan geniet. En dit is lekkerder as enigiets anders, glo My!”
JOHANNES 10:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir die Fariseërs gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: 'n Dief of 'n skelm kom nie in by die hek van die skaapkraal nie. Hy kom in by 'n ander plek. Die skaapwagter, die herder, kom in by die hek. Die man by die hek maak die hek vir die wagter oop. Die skape hoor die herder se stem. Hy roep elke skaap se naam en dan bring hy hulle uit die kraal uit. Wanneer hy al sy eie skape uit die kraal gebring het, dan loop hy voor die skape. Die skape gaan saam met die herder, want hulle ken sy stem. Die skape sal nie saam met iemand gaan as hulle hom nie ken nie. Hulle sal weghardloop van hom, want hulle ken nie ander mense se stemme nie.” Jesus wou vir die Fariseërs iets verduidelik toe Hy oor die herder gepraat het. Maar hulle het nie verstaan wat Hy vir hulle wou sê nie. Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die hek vir die skape. Die mense wat gekom het voordat Ek gekom het, het net ingebreek en gesteel. Maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die hek vir die skape. God sal die mense red wat in My glo. Hulle sal soos skape wees wat ingaan en uitgaan by 'n hek en wat gras kry om te eet. 'n Dief kom net om die skape te steel en te slag en dood te maak. Ek is nie so nie. Ek het gekom sodat die skape kan lewe, sodat hulle regtig kan lewe.
JOHANNES 10:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VOORWAAR, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim, hy is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is 'n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie. Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie. Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
JOHANNES 10:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van 'n ander kant af inklim, is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal nooit 'n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.” Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie. Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
JOHANNES 10:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Voorwaar, voorwaar sê Ek vir julle, wie nie deur die deur in die skaapkraal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim, hy is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat deur die deur gaan, is die herder van die skape. Vir hom maak die poortwagter oop; en die skape hoor sy stem, en hy roep sy eie skape by die naam en lei hulle uit. En as hy sy eie skape uitbring, gaan hy voor hulle uit, en die skape volg hom, want hulle ken sy stem. En 'n vreemdeling sal hulle nie volg nie, maar van hom wegvlug, want hulle ken die stem van vreemdes nie. Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle gesê het nie. Toe sê Jesus weer vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Al wat voor my gekom het, is diewe en rowers, maar die skape het hulle nie gehoor nie. Ek is die deur: as iemand deur My ingaan, sal hy gered word; en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom nie, maar om te steel, en om te slag en om te verwoes; Ek het gekom dat hulle lewe kan hê en dit in oorvloed.
JOHANNES 10:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek verseker julle, iemand wat nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie, maar van die ander kant af oorklim, is ’n dief en ’n rower. Iemand wat egter deur die hek toegang verkry, is die herder van die skape. Vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit, en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken. ’n Vreemdeling sal hulle glad nie volg nie, maar van hom af wegvlug omdat hulle nie die vreemdeling se stem herken nie.” Hierdie beeld het Jesus vir hulle vertel. Hulle kon egter nie insien wat Hy vir hulle wou sê nie. Toe het Jesus weer ’n keer gesê: “Ek verseker julle, Ek is die deur vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie op hulle reageer nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy beslis verlos word. Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry. Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. “Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.