JOHANNES 12:20-33

JOHANNES 12:20-33 AFR53

EN daar was sommige Grieke onder die wat opgekom het om op die fees te aanbid; hulle het na Filippus gegaan wat van Betsáida in Galiléa was, en hom gevra en gesê: My heer, ons wil Jesus graag sien. Filippus kom en sê dit vir Andréas, en Andréas en Filippus vertel dit weer aan Jesus. Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer. Nou is my siel ontsteld, en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom. Vader, verheerlik u Naam! Daar het toe 'n stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik. En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag gewees het. Ander het gesê: 'n Engel het met Hom gespreek. Jesus antwoord en sê: Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek. En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.

Video vir JOHANNES 12:20-33