JOB 29
29
Job dink aan die dae uit die verlede toe hy voorspoedig was en almal hom geëer het.
1EN Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:
2Ag, was ek maar soos in die vorige maande, soos in die dae toe God my bewaar het;
3 toe sy lamp bo my hoof geskyn het, ek by sy lig die duisternis deurwandel het;
4soos ek was in my herfsdae toe die verborgenheid van God oor my tent was;
5toe die Almagtige nog by my was, my kinders rondom my;
6toe my voetstappe gewas is in dikmelk en die rots by my strome van olie uitgegiet het.
7Toe ek uitgegaan het na die poort, op na die stad toe, op die markplein my sitplek reggemaak het,
8het die seuns weggekruip as hulle my sien, en grysaards het hulle opgerig en bly staan.
9Vorste het hulle woorde ingehou en die hand op hul mond gelê.
10Die stem van edeles is teruggehou, en hulle tong het gekleef aan hul verhemelte.
11Want het 'n oor net gehoor, dan prys dit my gelukkig; en het 'n oog net gesien, dan gee dit vir my getuienis.
12Want ek het die ellendige gered wat om hulp geroep het, en die wees en hom wat geen helper het nie.
13Die seën van hom wat klaar was om onder te gaan, het op my gekom; en die hart van die weduwee het ek laat jubel.
14 Die geregtigheid was my kleed, en ek sy kleed; my reg was soos 'n mantel en 'n tulband.
15 Oë was ek vir die blinde, en voete vir die lamme was ek.
16'n Vader was ek vir die behoeftiges; en die regsaak van hom wat ek nie geken het nie, het ek ondersoek.
17En ek het die tande van die kwaaddoener stukkend gebreek en die buit uit sy gebit geslinger.
18 So het ek dan gedink: By my nes sal ek die asem uitblaas, en soos die feniks my dae vermenigvuldig.
19My wortel staan oop na die water toe, en dou vernag op my tak.
20My eer is altyd nuut by my, en my boog bly jonk in my hand.
Job beskryf verder sy gelukkige toestand in dié dae.
21NA my het hulle geluister vol verwagting, en hulle het stil my raad aangehoor.
22Ná my woorde het hulle nie weer gespreek nie, en my rede het op hulle gedrup.
23En hulle het op my gewag soos op reën, en hulle mond wyd oopgemaak soos vir lentereëns.
24Ek het hulle toegelag as hulle moedeloos was, en hulle kon die lig van my gesig nie verdonker nie.
25Het ek die weg na hulle toe gekies, dan sit ek as voorman en woon soos 'n koning onder die skare, soos een wat treuriges vertroos.
Tans Gekies:
JOB 29: AFR53
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.