PSALMS 80

80
Die wingerdstok van die Here.
1VIR die musiekleier; op die wysie van: „Lelies.” 'n Getuienis. Van Asaf. 'n Psalm.
2 o Herder van Israel, hoor tog; U wat Josef soos skape lei, wat bo-oor die gérubs troon, verskyn in ligglans!
3Wek u mag op voor Efraim en Benjamin en Manasse, en kom ons te hulp!
4 o God, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
5 o Here, God van die leërskare, hoe lank nog rook u toorn by die gebed van u volk?
6U het hulle tranebrood laat eet, hulle oorvloedig trane laat drink.
7U het ons 'n voorwerp van stryd gemaak vir ons bure, en ons vyande drywe die spot.
8 o God van die leërskare, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
9 'n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant.
10U het voor hom plek gemaak, en hy het wortels geskiet en die land vervul.
11Die berge was oordek met sy skaduwee, en met sy ranke die seders van God.
12Hy het sy ranke uitgebrei tot by die see en sy lote na die Rivier toe.
13Waarom het U sy mure stukkend gebreek, sodat almal wat met die pad verbygaan, hom kaalpluk?
14Die wildevark uit die bos eet hom op, en wat roer op die veld, wei hom af.
15 o God van die leërskare, kom tog terug; aanskou uit die hemel en kyk, en gee ag op hierdie wingerdstok;
16en wees 'n beskerming vir wat u regterhand geplant het, en oor die seun wat U vir Uself grootgemaak het.
17Hy is met vuur verbrand, hy is afgekap; vanweë die dreiging van u aangesig kom hulle om.
18 Laat u hand wees oor die man van u regterhand, oor die menseseun wat U vir Uself grootgemaak het.
19Dan sal ons nie van U afwyk nie; hou ons in die lewe, dan sal ons u Naam aanroep.
20 o Here, God van die leërskare, herstel ons; laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!

Tans Gekies:

PSALMS 80: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan