1 Korintiërs 9:1-18

1 Korintiërs 9:1-18 DB

Kom ons gesels oor my gesag as iemand wat deur God gestuur is. Sou ek nie kon maak wat ek wou nie? Is ek nie iemand wat deur God gestuur is nie? Het ek nie ook vir Jesus, ons Here, van aangesig tot aangesig gesien nie? Is dit nie juis as gevolg van die goeie werk wat ek vir die Here gedoen het dat julle nou Christene is nie? Al dink ander dalk nie dat ek iemand is met ’n spesiale opdrag van God nie, moet julle ten minste darem so dink. Dat julle julleself vandag Christene kan noem, is die sigbare bewys daarvan dat ek spesiaal deur God gestuur is. Ek is nie bang om die mense wat my so kritiseer reg te help nie. Vir hulle het ek dit te sê: Mag ek nie by mense ’n bord kos of iets te drinke kry as ek onder hulle vir die Here werk nie? Het ek nie ook die reg om met ’n mede-Christen te trou en haar saam met my op my sendingreise te neem nie? Ander mense wat deur die Here gestuur is, doen dit, onder andere ook die broers van die Here en Sefas. Is dit net ek en Barnabas wat nie hulp van die gemeente mag kry nie, maar self vir ons brood en botter moet werk? Watter soldaat moet sy eie salaris betaal? Watter boer plant ’n klomp vrugtebome, maar mag nie van die vrugte eet nie? As iemand dag vir dag koeie oppas, sal julle mos nie weier dat hy ook van die melk proe nie. Hierdie voorbeelde ken ons uit die alledaagse lewe. Maar God wil dit ook so hê. Dit lees ons in sy wet. Moses het mos al geskryf: “Jy mag nie die bek van ’n bees toebind wat op die graanlande help nie.” Was God vreeslik bekommerd oor die beeste of wou Hy die gemeentes liewer ’n les leer oor hoe hulle die mense moet behandel wat vir hulle werk? Natuurlik gaan dit eerder oor ons. As mense hard saamwerk aan iets, moet elkeen mos ’n stukkie van die wins kry as dit verkoop word. As ek nou geestelik hard werk daar onder julle, is dit seker nie te veel gevra om darem so iets tasbaars van julle te kry om aan die lewe te bly nie. As julle voel dat julle mense wat geestelik onder julle werk so wil help, behoort julle ons nie eintlik voor in die ry te laat staan nie? Maar ons het liewer stilgebly as om vir julle te vra om ons te help om die pot aan die kook te hou. Ons wou nie hê dat enigiets wat ons doen mense moes afsit om na die wonderlike boodskap oor Christus te luister nie. Julle weet mos self dat die mense wat in die tempels werk genoeg kry om van te lewe by die mense wie se tempel dit is. Die Here het ook duidelik vir ons as Christene gesê wat ons moet doen. As ons vir mense van Jesus vertel, moet gelowiges ook sorg dat ons genoeg het om van te lewe. Ek het nooit by julle aangeklop om hulp nie, al kon ek. Nou moet julle ook nie dink dat ek dit nou met hierdie brief doen nie. Nee, ek sou liewer van honger doodgaan as om te sê dat ek vir julle van Jesus vertel het sodat ek geld of so iets by julle kon kry. Dat ek nie vir mense van Jesus vertel om geld in die hande te kry nie, is vir my baie belangrik. Dit maak my nie nou skielik baie goed nie. Ek kan nie anders as om mense van Jesus te vertel nie. Dit is waarvoor ek leef omdat God dit van my verwag. Ek weet nie wat met my sal gebeur as ek dit nie doen nie. As ek self gekies het om ’n prediker te word, sou ek miskien kon sê dat mense my moes betaal. Maar nou is dit nie ek wat dit gekies het nie. God het vir my gesê ek moet dit doen. Maar wat kry ek dan nou vir al my moeite? Dit is vir my meer as genoeg om maar net die boodskap oor Jesus aan mense te vertel sonder om geld daarvoor te vra, al het ek die volste reg om te eis dat hulle vir my ook moet sorg.