God, die Vader van Jesus Christus, is darem groot en wonderlik. Hy self het ons sy kinders gemaak. ’n Mens staan verstom voor sy geweldige goedheid. God het ons beloof dat wat Syne is, ook ons s’n is. Met al die dinge wat Hy vir ons beloof het, kan niks skeefloop nie, want dit kan nie stukkend of verlore raak nie. God bêre dit vir ons daar by Hom. Daarom twyfel ons nie een oomblik dat God sy woord gaan hou nie. Ons weet dit gaan gebeur, al weet ons nie wanneer nie. God het mos bewys dat Hy al die dinge vir ons kan en wil doen toe Hy Jesus uit die dood opgewek het. God hou julle juis nou styf vas sodat niks met julle gebeur wat julle geestelik kan seermaak nie. Hy is sterk genoeg om dit te kan doen. Vertrou daarom op Hom, want Hy gaan julle kom red. Alles is al reg daarvoor. Op die dag wanneer Jesus weer kom, sal God al die wonderlike dinge wat Hy vir julle reggemaak het, vir julle kom uitdeel. Daarvan kan julle seker wees en daarom kan julle inderdaad baie bly en opgewonde wees. Dit kan gebeur dat daar in julle alledaagse lewe dinge gebeur wat nie vir julle lekker is nie en wat julle geloof op allerhande maniere toets. Moenie dat dit julle van stryk bring nie. Kom ons neem goud as voorbeeld. Geld wat van goud gemaak is, hou natuurlik nie vir altyd nie. Tog doen mense moeite om dit in ’n baie warm vuur te sit om so al die vuiligheid wat in die goud vassit, weg te smelt. So is dit met die geloof ook. Dit moet getoets en suiwer gemaak word. As julle geloof deur al die moeilikhede heen sterk bly, sal daar by die wederkoms van Jesus gesê word watter mooi voorbeeld julle met julle geloof gestel het. Almal sal daaroor praat. Julle het Jesus wel nie gesien toe Hy op aarde was nie, tog maak dit nie vir julle saak nie. Julle het Hom lief en bly lojaal teenoor Hom. Julle bly op Hom vertrou. Dit is nie asof alles eers eendag daar ver gaan gebeur nie. Omdat ons op Jesus vertrou, kan ons sê dat ons saak nou reeds met God reg is. Dit is waarom ons in Jesus glo. Ek kan julle nie sê hoe bly dit ons maak nie. Ons loop behoorlik oor van dié wonderlike vreugde.
Lees 1 Petrus 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Petrus 1:3-9
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's