2 Kronieke 13

13
Oorlog tussen Abia en Jerobeam
1Abia het in die agtiende jaar dat koning Jerobeam van Israel regeer het, die koning van Juda geword. 2Abia het drie jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Miga, ’n dogter van Uriël wat in Gibea gebly het.
Daar het ’n oorlog tussen Abia en Jerobeam uitgebreek. 3Abia het met 400 000 uitgesoekte soldate van Juda gaan veg. Jerobeam het oor 800 000 dapper soldate van Israel beskik.
Abia praat met die Israeliete
4Abia het op Semarajimberg, in die bergland van Efraim, gaan staan. Toe het hy die Israeliete toegespreek: “Luister na my, Jerobeam en al julle Israeliete! 5Julle weet tog dat die Here, Israel se God, die koningskap van Israel vir Dawid en sy nageslag gegee het. Hy het belowe dat dit vir altyd so sou wees. 6Toe het Jerobeam, Nebat se seun, in opstand gekom. Hy wat ’n onderdaan van Salomo was, het gerebelleer. 7Hy en ’n bende nikswerd mense het saamgespan teen Salomo se seun en opvolger Rehabeam. Rehabeam was toe nog jonk en onervare. Daarom kon hy nie teen hulle standhou nie. 8Glo julle regtig dat julle staande sal kan bly teen die koninkryk van die Here wat deur ’n afstammeling van Dawid gelei word?
“Julle leër is wel baie groot, maar julle gode is daardie goue kalwerbeelde wat Jerobeam vir julle gemaak het. 9Daarby het julle die priesters van die Here en die Leviete weggejaag. Julle stel sommer julle eie priesters aan, net soos die vreemde nasies in ander lande. Enigiemand wat daar by julle opdaag met ’n jong bul en sewe ramme kan, as hy wil, ’n priester word vir daardie sogenaamde gode van julle.
10“By ons is dit heeltemal anders: die Here is ons God en ons bly steeds gehoorsaam aan Hom. Ons priesters kom almal uit die nageslag van Aäron en die Leviete doen diens by die tempel. 11Hulle offer elke oggend en elke aand diere en geurige wierook vir die Here; hulle sit gereeld offerbrood op die tafel wat daarvoor skoongemaak is en hulle steek elke aand die lampe van die goue kandelaar op.
“Ons doen presies wat die Here ons God vir ons sê, maar julle het Hom verlaat.
12“Kyk maar! Die Here is self ons bevelvoerder en die priesters staan reg om die trompette te blaas dat ons julle kan aanval! Israeliete, moet tog nie oorlog maak teen die Here, die God van julle voorouers, nie. Julle kan tog nie wen nie!”
Die veldslag
13Jerobeam het intussen van sy soldate agter die Judeërs om gestuur, sodat hulle hulle van voor en van agter af kon aanval. 14Die Judeërs het skielik besef dat hulle van albei kante aangeval word. Hulle het die Here gevra om hulle te help. Die priesters het intussen op die trompette geblaas. 15Die manne van Juda het ’n oorlogskreet geskree. Toe het die Here Jerobeam en die Israeliete voor Abia en Juda verslaan. 16Die Israeliete het gevlug vir die Judeërs, want die Here het die Judeërs laat wen. 17Abia en sy manne het Israel groot verliese toegedien: daar is op dié dag 500 000 van Israel se uitgesoekte soldate dood. 18So het Juda vir Israel verslaan omdat hulle op die Here, die God van hulle voorouers, vertrou het. 19Abia en sy leër het Jerobeam-hulle agtervolg en ’n paar Israelitiese stede, soos Bet-El, Jesana en Efron, met hulle omliggende dorpies, beset.
20Jerobeam kon sy mag nie in Abia se tyd herstel nie. Uiteindelik het die Here hom skielik laat doodgaan. 21Maar Abia het al sterker geword. Hy het met veertien vroue getrou en hulle het 22 seuns en sestien dogters gehad.
22Die res van Abia se geskiedenis, wat hy gedoen en gesê het, is in Die Kommentaar van die Profeet Iddo opgeskryf.

Tans Gekies:

2 Kronieke 13: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan