2 Kronieke 14

14
1Abia is oorlede en hy is in die Dawidstad begrawe. Sy seun Asa het na hom koning geword. Hy het gesorg vir tien jaar van rus in die land.
Vrede in Asa se tyd
2Asa het die dinge gedoen wat vir God goed en reg was. 3Hy het die vreemde altare en heilige plekke vir ander gode tot niet gemaak, die heilige pilare omgegooi en die stompe ter ere van die godin Asjera afgekap. 4Hy het die mense van Juda aangemoedig om te doen wat die Here, die God van hulle voorouers, vra en om sy wette en reëls na te kom. 5Asa het die heilige plekke en altare waarop hulle wierook vir vreemde gode gebrand het, in elke dorp van Juda vernietig. Daarom het daar vir ’n hele ruk vrede in Juda geheers. 6Hy het ook die versterkte stede van Juda herbou terwyl die vrede wat van die Here af kom, daar geheers het. 7Asa het sy mense opgeroep en gesê: “Laat ons die stede nou herbou terwyl dit rustig is. Ons moet mure met verdedigingstorings om die stede bou en hekke insit wat kan toegrendel. Dis nou die tyd om te bou, want ons het gedoen wat die Here wou hê; daarom het Hy vir ons vrede met al ons bure gegee.” Hulle het die bouwerk toe voorspoedig afgehandel.
Serag val Juda aan
8Asa se leër het uit twee groepe bestaan. Daar was 300 000 man uit Juda, wat elkeen toegerus was met ’n skild en ’n spies. Dan was daar ’n verdere 280 000 man uit Benjamin, elkeen toegerus met ’n skild en pyl en boog. Hulle was uitgesoekte soldate.
9Op ’n keer het Serag, ’n Etiopiese offisier, Juda met ’n leërmag van ’n miljoen soldate en 300 strydwaens aangeval. Hulle het tot by die stad Maresa gevorder 10waar Asa sy soldate in die Sefatalaagte opgestel het. 11Asa was bang en het vir die Here sy God gesê: “Here, U steur U mos nie aan getalle wanneer U iemand help nie. Help ons tog nou, o Here! Ons vertrou op U en ons veg teen hierdie skare in u Naam. Here, U is ons God. Menslike krag kan nie teen U standhou nie.”
12Die Here het die Etiopiërs toe deur Asa en die Judese leër verslaan en die vyand het gevlug. 13Asa en sy soldate het hulle tot by Gerar agtervolg. Soveel Etiopiërs is in die veldslag dood dat dit onmoontlik was om hulle te organiseer. Hulle is deur die Here en sy leër vernietig. Die Judese soldate het baie buit afgeneem. 14Dit het aangehou terwyl hulle die stede rondom Gerar aangeval en geplunder het, want daar was baie om te vat. Die mense van daardie stede het baie bang geword vir die Here se ontsettende mag. 15Die Judeërs het ook die veewagters in hulle tente aangeval en baie skape en kamele gebuit.
Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan.

Tans Gekies:

2 Kronieke 14: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan