2 Kronieke 19

19
Josafat word gekritiseer
1Koning Josafat van Juda het veilig by sy huis in Jerusalem aangekom. 2Die siener Jehu, Ganani se seun, het uitgegaan om hom te ontmoet. Hy het vir koning Josafat gesê: “Gaan help jy nou slegte mense en maak jy vriende met die vyande van die Here? Dit het die Here baie kwaad gemaak. 3Maar jy het darem goeie dinge ook gedoen, soos toe jy die pale ter ere van die afgod Asjera uitgeroei het en toe jy begin het om net te doen wat God wil hê.”
Josafat se hervormings aan die regstelsel
4Josafat het in Jerusalem gewoon, maar hy het weer uitgegaan en sy mense besoek. Hy het van Berseba af tot in die Efraimsberge deur die land rondgegaan. Josafat het die mense opgeroep om na die Here, die God van hulle vaders, terug te kom. 5Hy het dwarsdeur die land in die versterkte stede van Juda regters aangestel. 6Hy het vir hulle gesê: “Wees versigtig in julle werk. Onthou dat julle as regters nie mense tevrede moet stel nie, maar vir die Here. Hy sal julle help wanneer julle uitspraak lewer. 7Wees versigtig vir die Here en dink mooi wat julle doen, want die Here verdra geen onreg, partydigheid of omkopery nie.”
8In Jerusalem het Josafat ook sekere Leviete, priesters en familiehoofde van Israel as regters aangestel. Hulle was verantwoordelik vir die toepassing van die wet van die Here en ook vir siviele hofsake tussen mense in die land. 9Hy het vir hulle gesê: “Julle moet altyd só optree dat julle die Here tevrede stel. Doen julle werk getrou en met toewyding. 10As daar ’n saak van iemand uit die platteland voor julle kom en dit gaan oor ’n moord of ’n ander oortreding van een van God se instruksies, bevele, wette of reëls, moet julle hulle waarsku om nie sonde te doen nie. Dit sal keer dat die Here vir julle en vir hulle kwaad word. As julle dit só doen, sal julle nie skuldig wees nie. 11Die hoogste gesag in alle godsdienstige sake is die hoëpriester Amarja. Die hoogste gesag in alle siviele sake is Sebadja, Ismael se seun wat leier is van die Judastam. Die Leviete sal julle help sorg dat die reg toegepas word. Staan sterk en doen julle werk goed. Mag die Here self sorg dat reg geskied!”

Tans Gekies:

2 Kronieke 19: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan