2 Kronieke 2
2
Voorbereidings om die tempel te bou
1Salomo het besluit dat die tyd ryp was om die tempel vir die Here en ’n paleis vir homself te bou. 2Hy het 70 000 arbeiders en 80 000 klipkappers op die heuwels aan die werk gesit en 3 600 voormanne het oor hulle werk toesig gehou. 3Daarby het Salomo die volgende boodskap na koning Hiram van Tirus gestuur: “U was so goed om sederhoutstompe vir my pa Dawid te voorsien toe hy sy paleis gebou het. 4Nou staan ek op die punt om ’n tempel vir die Here my God te bou en dit aan Hom te wy. Ek sal daar wierook vir Hom brand, gereeld die offerbrood uitpak, oggend- en aandoffers bring, sowel as die offers vir die sabbat, die nuwemaan en die spesiale feeste vir die Here ons God. Hy het ons beveel om dié dinge vir altyd te doen.
5“Die tempel wat ek gaan bou, sal iets groots wees, want ons God is groter as enige ander god. 6Maar wie kan vir Hom ’n huis bou wat by Hom pas as die hoogste hemele Hom nie eens kan huisves nie? Wie is ék nou eintlik om vir Hom ’n huis te bou, behalwe om daarin vir Hom offers te bring?
7“Hier is nou my versoek: stuur tog vir my ’n bekwame vakman wat met metale soos goud, silwer, brons en yster kan werk en wat vaardig is met pers, rooi en blou materiaal en wat goed is met gravering. Hy sal hier saam met vakmanne uit Juda en Jerusalem werk, wat my pa destyds aangestel het. 8Stuur ook vir my seder- en sipreshout en ander edelhoutsoorte wat daar in die Libanonberg groei. Ek weet hoe vaardig u mense is om bome op te saag. My werkers sal u s’n help 9om ’n baie groot hoeveelheid planke voor te berei, want die huis wat ek wil bou gaan so groot wees dat mense hulle daaroor sal verwonder.
10“Ek sal baie kos vir u werkers voorsien wat die hout moet kap. Ek sal sorg vir meer as 3 600 ton koring en net soveel gars en vir 420 kiloliter wyn en net soveel olyfolie.”
11Koning Hiram van Tirus het die volgende antwoord vir Salomo gestuur: “Dit is omdat die Here sy volk liefhet dat Hy jou hulle koning gemaak het!
12“Ek prys die Here, die God van Israel, wat die hemel en aarde gemaak het en wat vir Dawid so ’n wyse seun en opvolger gegee het. ’n Seun wat die insig het om vir die Here ’n tempel en vir homself ’n paleis te bou!
13“Ek stuur vir u Hiram, ’n meestervakman, wat baie kennis en ondervinding het. 14Sy ma is ’n vrou uit die stam van Dan en sy pa is hier van Tirus af. Hy het ondervinding met goud, silwer, brons, yster, klip en hout, maar ook met pers, rooi en blou materiaal en baie fyn linne. Hy is ook ’n bekwame graveerder wat die vermoë het om saam met u vakmanne en dié wat u pa destyds aangestel het, te werk. Hy sal enige ontwerp wat aan hom voorgelê word, kan maak.
15“Stuur nou maar die koring, gars, olie en wyn wat u vir die werkers beloof het. 16Ons sal al die hout wat u nodig het in die Libanonberg kap en dit as vlotte op die see afstuur tot by Joppe. Van daar af moet u dit dan by Jerusalem kry.”
17Salomo het toe telling gehou van al die vreemde mense wat daar in Israel gewoon het, net soos die telling wat Dawid ’n vorige keer gehou het. Hulle het agtergekom dat daar 153 600 vreemdelinge in die land was. 18Hy het 70 000 van hulle draers gemaak en 80 000 as klipkappers gebruik. Daar was 3 600 mense wat oor hoe hulle werk toesig gehou het.
Tans Gekies:
2 Kronieke 2: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.