2 Korintiërs 5

5
’n Nuwe bestaan wag op ons
1Wanneer ons liggaam eendag soos ’n tent opgevou en in die grond weggebêre word, is dit nie klaar met ons nie. Gelukkig nie. Dan breek ’n splinternuwe lewe by God aan wat nooit sal ophou nie. 2Terwyl ons nou nog in hierdie ou aardse tent van ons aansukkel, kry ons swaar. Ons sien baie uit na daardie nuwe hemelse liggaam. 3Wanneer ons dit die dag van God ontvang, sal ons glad nie nakend of hulpeloos wees nie. 4Intussen gaan dit maar bitter moeilik met ons hier in ons aardse liggaam. Ons sug en kla. Ons sien regtig uit na die dag dat hierdie sterflike liggaam van ons vervang word met ’n nuwe liggaam. Dan sal hierdie sterflike liggaam van ons plek maak vir ’n hemelse liggaam wat vir altyd sal bestaan.
5God is besig om ons gereed te maak vir hierdie nuwe lewe wat op ons wag. Om te verseker dat ons veilig by Hom sal aankom, het Hy sy Gees aan ons gegee. Die Heilige Gees is die waarborg dat God sy woord sal hou.
6Ons raak glad nie moedeloos nie. Ons weet dat terwyl ons nog in hierdie aardse liggaam leef, ons nog nie by die Here is nie. 7Maar ons glo met alles in ons dat ons daarheen op pad is, ook al sien ons nog niks van hierdie nuwe lewe nie. 8Ons is daarom vol moed. Natuurlik sal ons sommer nou dadelik hier wou padgee en by die Here gaan bly. 9Maar op die ou end gaan dit nie oor wat ons wil hê nie. Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly, of daar in die hemelse wêreld. 10Ons almal moet in elk geval voor Christus se regterstoel gaan staan. Op die laaste dag sal Hy sy uitspraak lewer oor alles wat ons tydens hierdie lewe gedoen het. Ons sal dan beloon word volgens dit wat ons gedoen het, goed of sleg.
Dit gaan nou net oor Christus se eer
11Ek het groot eerbied vir die Here. Daarom probeer ek ander mense oortuig om ook in Hom te glo. God weet dat ek opreg is wanneer ek vir Hom werk. Ek hoop julle weet dit ook. 12Terloops, ek sê dit nie om julle te probeer beïndruk nie. Nee, ek sê dit vir julle sodat julle op die regte manier op my trots kan wees. Dan het julle ten minste ’n antwoord vir daardie mense wat so maklik spog oor al die “groot dinge” wat hulle vir die Here doen. Vir hulle gaan dit net oor uiterlike suksesse, nie oor ’n mens se innerlike lewe nie.
13Ek het ook al groot geestelike ervarings gehad. Hierdie bonatuurlike ervarings, waarin ek in ’n ander staat van bestaan verkeer het, is egter iets tussen my en God. Ek wil nie daaroor praat nie. Wanneer ek in my normale staat van bestaan is, is dit ter wille van julle. Dan kan ek vir julle in gewone taal van God vertel.
14Ek weet dat Christus se liefde ons almal aanvuur. Ons weet dat een Man ter wille van ons almal gesterf het. Daarom is ons almal nou ook dood. Ons is bevry van die mag van die sonde en die dood. 15Ons behoort nou net aan Christus. Daarom mag ons nie langer vir onsself leef nie. Nee, ons moet nou leef tot eer van Hom wat in ons plek doodgegaan het en deur God lewendig gemaak is.
God vat al die vyandskap uit die pad
16Noudat ek op ’n nuwe manier leef, dink ek ook op ’n nuwe manier oor ander mense en oor Christus. Vroeër, toe ek nog nie ’n Christen was nie, het ek heeltemal verkeerd oor Christus gedink. Toe het ek glad nie in Hom geglo nie. Maar nou dink ek op die regte manier oor Hom.
17Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy ’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine. Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan is die nuwe lewe hier! 18Dit alles is God se werk. Hy het die vyandskap tussen ons en Hom uit die pad gevat toe Christus aan die kruis dood is. God het my nou in sy diens geneem om vir mense te vertel van sy versoening. 19Deur Christus se sterwe het God vrede tussen Hom en die wêreld kom maak omdat Hy nie langer mense se sondes teen hulle hou nie. Dit is die goeie nuus wat ek nou oral bekendmaak.
20Ek is Christus se ambassadeur hier op aarde. Ek verteenwoordig Hom op elke plek waar ek kom. God praat deur my met julle almal. Ek smeek julle in die Naam van Christus, laat toe dat God die vyandskap tussen Hom en julle wegvat. Aanvaar hierdie versoening as ’n geskenk uit sy hand. 21Christus het nooit enige sondes gedoen nie. Maar God het Hom aan die kruis in ons plek in sonde verander. Hy het al ons sondes daar op Christus afgelaai sodat ons wat in Hom glo se verhouding met God nou herstel is.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan