2 Konings 16

16
Koning Agas van Juda
1In die sewentiende jaar wat koning Peka in Israel regeer het, het Agas, die seun van Jotam, koning in Juda geword. 2Agas was twintig toe hy koning geword het en het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Agas gedoen het nie, nie soos die geval was met koning Dawid, sy voorvader nie. 3Hy het dieselfde dinge gedoen as die konings van Israel en selfs verder gegaan. Hy het sy seun as ’n offer laat verbrand en so die afstootlike praktyke gevolg van die volke wat voor die Israeliete in die land gewoon het en wat deur die Here uit die land verdryf is. 4Hy het by die heidene se heilige plekke op die heuwels en onder elke groen boom diere geoffer en wierook gebrand.
5In daardie tyd het Resin, die koning van Aram, en Peka, die koning van Israel en seun van Remalja Juda aangeval. Hulle het Jerusalem beleër, maar kon nie die stad inneem nie. 6Resin het egter Elat vir Aram teruggeneem en die Judeërs daaruit verjaag. Daar het toe Edomiete in die stad gaan bly. Hulle woon vandag nog daar.
7Koning Agas het boodskappers na Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gestuur en vir hom gesê: “Ek is u dienaar en u onderdaan. Kom help my asseblief om die Arameërs en Israeliete se aanval af te slaan.” 8Agas het die silwer en goud wat oor was in die Here se tempel en die stoorkamers van die paleis bymekaargemaak en dit as ’n geskenk aan die Assiriese koning gestuur. 9Tiglat-Pileser het besluit om Agas te help. Hy het die Aramese hoofstad Damaskus aangeval en die inwoners na Kir weggevoer. Hy het ook vir koning Resin doodgemaak.
Koning Agas bring
veranderings by die tempel aan
10Agas het Damaskus toe gereis om Tiglat-Pileser te gaan ontmoet. In Damaskus het hy ’n altaar gesien wat dadelik sy belangstelling gewek het. Hy het die afmetings en ’n model van die altaar aan die priester Urija gestuur en hom beveel om ’n replika daarvan te maak. 11Urija het die opdrag sorgvuldig uitgevoer en ’n altaar presies soos die een in Damaskus voltooi nog voordat Agas uit Damaskus terug was. 12Toe Agas in Jerusalem kom, het hy na die altaar gaan kyk en verskillende offers daarop gebring: 13hy het ’n dier as offer op die altaar verbrand en ’n offer van graan gebring; hy het drank as offer oor die altaar gegooi en die bloed van ’n vredesoffer daaraan gesmeer.
14Agas het die bronsaltaar wat voor die tempel tussen die nuwe altaar en die tempel gestaan het, uitgehaal en dit noord van die nuwe altaar laat neersit. 15Agas het vir Urija gesê: “Van nou af moet jy alle offers hier op die groot altaar uitvoer: alles wat in die oggend en in die aand vir die Here verbrand word, die diere, graan én drank, moet hier verbrand word. Al die bloed van die offerdiere wat teen ’n altaar gegooi moet word, moet van nou af teen hierdie altaar gegooi word. Die ou bronsaltaar sal voortaan net vir my eie gebruik wees.” 16Urija het presies gedoen wat koning Agas hom beveel het.
17Agas het ook die syplate en wasbakke van die waterwaentjies weggevat. Hy het ook die groot waterbak, die “See”, van die beesbeelde van brons waarop dit gerus het, afgehaal en op die klipvloer neergesit. 18Om sy ondergeskiktheid aan die Assiriese koning te bewys, het Agas die oordekte gang wat vroeër by die tempel aangebou is en net deur die koning op die sabbatdae gebruik is, laat afbreek. Hy het ook die spesiale koninklike ingang tot die tempel laat toemaak.
19Die res van Agas se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. 20Na sy dood is Agas by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Hiskia het hom opgevolg.

Tans Gekies:

2 Konings 16: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan