2 Samuel 12

12
Die Here straf vir Dawid
1Die Here het Natan na Dawid toe gestuur. Toe hy by hom kom, sê hy vir hom: “Daar was twee mense in ’n dorp; die een was ryk en die ander een arm. 2Die ryk man het baie skape en beeste gehad, 3en die arm man net een ou ooilammetjie wat hy gekoop het toe sy nog baie klein was. Hy het haar hans grootgemaak. Sy het by hom en sy kinders in die huis grootgeword en van hulle paar stukkies brood geëet en uit dieselfde beker as hulle gedrink. Sy het baie keer op sy skoot gelê. Sy was soos ’n kind in die huis.
4“Op ’n dag kom daar toe iemand by die ryk man kuier. Hy was te jammer om een van sy eie skape of beeste te slag en ’n ete vir die kuiergas te kook. Hy vat toe die ooilam van die arm man en maak haar gaar.”
5Dawid was briesend kwaad vir die man wat so iets kon doen. Hy sê vir Natan: “So waar as die Here leef, die man wat dít gedoen het, moet die doodstraf kry! 6En daar moet vier van sy lammers gegee word in die plek van daardie een ooilam. Hoe kon die man so iets doen en nie eers jammer voel vir die arm man nie!”
7“Jý is daardie man!” sê Natan vir hom. “Die Here, die God van Israel, het vir jou hierdie boodskap gestuur. Hy het gesê: ‘Ek het jou koning laat word oor Israel, en Ek is die Een wat jou gehelp het teen Saul. 8Ek het vir jou alles gegee wat hy gehad het. Ek het vir jou sy harem ook gegee. Ek het vir jou die hele koninkryk van Israel en van Juda gegee. As dit te min was, kon Ek vir jou nog baie sulke dinge daar bygee! 9Hoekom het jy jou nie gesteur aan wat Ek, die Here, sê nie, en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija, die Hetiet, in die oorlog laat doodmaak en sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met ’n swaard van die Ammoniete! 10Nou gaan daar altyd moord en doodslag in jou huis wees omdat jy jou nie aan My gesteur het nie en Urija, die Hetiet, se vrou vir jou gevat het!’
11“Die Here het vir jou nog ’n boodskap. Hy het gesê: ‘Ek sal sorg dat daar vir jou genoeg moeilikheid uit jou eie familie kom: jy sal sien hoe Ek jóú vroue vat en vir iemand gee wat naby jou is. Hy sal helder oordag by hulle slaap. 12Die ding wat jy skelm in die donker gedoen het, gaan Ek voor al die Israeliete helder oordag laat gebeur.’”
13Dawid het vir Natan gesê: “Ek het ’n vreeslike verkeerde ding teen die Here gedoen!”
Natan het geantwoord: “Die Here sal die fout wat jy gemaak het, oorsien: jy sal nie die doodstraf kry nie, 14maar die kind wat gebore is, sal vir seker doodgaan, want jy het die Here in die gesig gevat toe jy hierdie verskriklike ding gedoen het.”
15Nadat Natan daar weg is huis toe, het die Here die kind van Dawid en Urija se vrou laat siek word. 16Dawid het God mooi gevra om die kind te laat bly lewe. Hy het niks geëet nie en daardie nag in sy kamer op die grond gelê. Hy het rouklere aangetrek. 17Sy ou paleiswerkers het hom gesoebat om van die grond af op te staan, maar hy wou nie en hy wou ook niks saam met hulle eet nie.
18’n Week later is die kind dood. Dawid se werksmense was te bang om dit vir hom te sê. Hulle het vir mekaar gesê: “Toe die kind nog geleef het, het ons mooi met hom gepraat, maar hy wou glad nie na ons luister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy doen dalk ’n lelike ding!”
19Dawid het gesien sy werksmense praat so saggies met mekaar. Toe weet hy die kind is dood. Hy vra toe vir hulle: “Is die kind dood?”
“Ja, hy is dood,” het hulle geantwoord.
20Dawid het van die grond af opgestaan en hom gewas. Hy het olyfolie aan sy vel gesmeer en skoon klere aangetrek. Hy het na die altaar van die Here toe gegaan en voor die Here op sy knieë gaan staan. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en vir sy mense gesê hy wil eet. Hulle het vir hom kos gegee en hy het dit geëet.
21Die paleiswerkers sê toe vir hom: “Hoe moet ons dit verstaan? Vir so lank as wat die kind geleef het, het u niks geëet nie en gehuil, maar nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”
22Dawid het hulle geantwoord: “Toe die kind nog geleef het, het ek niks geëet nie en gehuil omdat ek gedink het miskien sal die Here my jammer kry en die kind laat leef. 23Maar nou is hy dood. Hoekom moet ek nog sonder kos bly? Ek kan nie die kind terugbring nie. Ek sal na hom toe gaan, maar hy kan nie na my toe terugkom nie.”
24Dawid het sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar geslaap en sy het toe weer ’n seuntjie gehad. Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het van Salomo gehou. 25Die Here het Natan gestuur om ook vir hom ’n naam te gee. Hy het hom Jedidja, “die Here se liefling”, genoem.
Dawid wen die Ammoniete
26Intussen het Joab weer Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, aangeval. Hy het met sy soldate tot binne-in die stad gekom. 27Joab stuur toe mense na Dawid toe om vir hom te sê: “Ek het teen Rabba geveg en die onderste deel van die stad waar die water is, oorgeneem. 28Kom dan nou met die manskappe wat nog oor is, dan kom veg u teen die stad en neem dit in. Ek wil dit nie doen nie, want dan kry ek die eer daarvoor.”
29Dawid het al die manne wat kon veg, bymekaargemaak en na Rabba toe opgetrek. Hy het teen die stad geveg en dit ingeneem. 30Dawid het die kroon gevat wat op hulle koning Milkom se kop was en dit op sy eie kop gesit. Dit was ’n goue kroon met juwele wat omtrent 34 kilogram geweeg het. Dawid het baie ander goed in die stad gekry. 31Hy het die mense van die stad vir hom laat werk: party van hulle moes met sae en ysterpikke en byle vir hom sandsteenblokke maak. Ander moes weer kleistene maak. Dawid het die mense van al die dorpe van die Ammoniete so laat werk.
Daarna het hy met al die manskappe teruggegaan Jerusalem toe.

Tans Gekies:

2 Samuel 12: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan