2 Samuel 4
4
Is-Boset word vermoor
1Toe Saul se seun Is-Boset hoor dat Abner in Hebron dood is, het sy moed in sy skoene gesak. Al die Israeliete was lam geskrik.
2Daar was twee mans by Is-Boset wat altyd die strooptogte gelei het. Die een se naam was Baäna en die ander een se naam was Rekab. Hulle pa was Rimmon, ’n man van Benjamin wat van Beërot af gekom het. (Beërot het vroeër aan die Benjaminstam behoort. 3Die mense wat eers in Beërot gebly het, het na Gittajim gevlug. Hulle is vandag nog daar en het die regte van vreemdelinge.)
4Behalwe Is-Boset was daar nog een man van Saul se familie oor. Sy naam was Mefiboset. Dit was Jonatan se seun. Sy bene was verlam. Toe die boodskap uit Jisreël kom dat Saul en Jonatan dood is, was hy maar vyf jaar oud. Die kinderoppasser het hom gegryp om weg te hardloop, maar sy was só haastig om weg te kom dat sy die kind laat val het. Van toe af is hy verlam.
5Rekab en Baäna, Rimmon van Beërot se twee seuns, het een middag na Is-Boset se huis gegaan. Dit was op die warmste tyd van die dag, en hy het ’n middagslapie geniet. 6Die twee het gemaak of hulle koring kom haal en het só tot binne-in die huis gekom. Hulle het Is-Boset doodgesteek en weer uitgeglip. 7Toe hulle in die huis ingekom het, het Is-Boset nog op sy bed in die slaapkamer gelê. Daar het hulle hom doodgesteek en sy kop afgekap. Hulle het sy kop gevat en die hele nag al met die Jordaanvallei langs geloop. 8Hulle het Is-Boset se kop vir koning Dawid in Hebron gevat en vir hom gesê: “Hier is die kop van Is-Boset, die seun van Saul, daardie vyand van u wat probeer het om u dood te maak. Die Here het vandag vir U Majesteit wraak geneem op Saul en sy kinders.”
9Maar Dawid het vir Rekab en Baäna, Rimmon van Beërot se twee seuns, gesê: “So waar as die Here leef, Hy wat my uit baie moeilikheid gehelp het: 10Toe ’n man in Siklag vir my kom sê het Saul is dood, het hý ook gedink hy bring vir my goeie nuus. Maar ek het hom laat vang en laat doodmaak. Dís die betaling wat hy gekry het vir sy boodskap. 11Wat dink julle gaan ek dan doen met skurke wat ’n onskuldige man in sy eie huis op sy bed vermoor? Ek gaan julle vir seker laat betaal vir sy dood en julle van die aarde af uitroei.”
12Dawid het vir sy soldate gesê om hulle dood te maak. Hulle het hulle hande en voete afgekap en die twee lyke by die fontein van Hebron opgehang vir almal om te sien. Is-Boset se kop het hulle in Abner se graf in Hebron gaan neersit.
Tans Gekies:
2 Samuel 4: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.