Handelinge 17

17
In Tessalonika
1Paulus en Silas het daarna in ’n suidelike rigting deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Tessalonika aangekom. Daar was ’n Joodse sinagoge. 2Soos dit sy gewoonte was, het Paulus gereeld soontoe gegaan. Drie sabbatte het hy daar met die Jode uit die Bybel gaan praat. Hy het vir hulle verduidelik dat dit deel van 3God se plan was dat die Messias moes kom ly en sterf, maar dat Hy op die derde dag na sy dood weer lewendig gemaak is. En hy het bygevoeg: “Hierdie Jesus van wie ek julle vertel, Hy is die Messias. Hy is God se Gestuurde.”
4Party van die mense het Paulus se prediking geglo. Hulle het daar voor almal by hom en Silas aangesluit. Saam met hulle het baie Grieke wat vroeër die Joodse geloof aanvaar het, asook ’n hele aantal van die vooraanstaande vroue in die stad, tot geloof in Jesus gekom.
5Toe die ander Jode sien wat gebeur, was hulle baie jaloers. Hulle het agteraf met leeglêers gaan konkel om die inwoners teen Paulus en Silas op te sweep. Spoedig het hierdie mense oral deur die stad amok begin maak terwyl hulle na die Here se twee boodskappers gesoek het. 6Toe die skare hoor dat hulle in Jason se huis bly, het hulle sy huis bestorm. Hulle wou Paulus en Silas vang en hulle in die openbaar laat verhoor. 7Dié twee was egter nie tuis nie, net Jason en ’n paar ander gelowiges. Die skare het hulle gevang en voor die hoofde van die stad gesleep.
“Hierdie spul is besig om die wêreld om te keer,” het die skare vir die stadsvaders geskree. “En Jason laat toe dat hulle daar in sy huis bly. Hierdie mense oortree die keiser se voorskrifte. Hulle sê dat Jesus die Koning is, nie die keiser nie.”
8Toe die skare en die leiers van die stad dié aanklagte hoor, was hulle baie kwaad. Hulle het verskriklik met Jason en die ander gelowiges geraas. 9Maar uiteindelik het hulle hulle laat gaan nadat hulle ’n afkoopsom betaal het. Jason moes ook die versekering gee dat daar nie nog moeilikheid sou wees nie.
In Berea
10Daardie nag nog het die gelowiges vir Paulus en Silas by die stad uitgesmokkel. Hulle volgende bestemming was Berea. 11Daar het hulle na die Joodse sinagoge gegaan en begin preek. 12Die mense daar was darem ’n bietjie vriendeliker as in Tessalonika. Hulle het opgewonde geluister na alles wat Paulus-hulle vir hulle gesê het. Elke dag het hulle almal lang gesprekke oor die Bybel gevoer. Hulle wou vasstel of alles wat Paulus gesê het wel daarin opgeteken staan. Uiteindelik het baie Jode tot geloof in Jesus gekom; so ook ’n groep van die belangrike mans en vroue in die stad.
13Intussen het die Jode in Tessalonika gehoor dat Paulus besig was om vir die mense in Berea van God te vertel. Hulle het dadelik soontoe gegaan en met ’n skinderveldtog teen hulle begin. Alte gou het hulle die inwoners van Berea ook teen Paulus en Silas opgesweep. Toe die skare weer met hulle optogte en betogings begin, het die gelowiges besluit om Paulus vinnig uit die stad te kry. 14’n Paar van hulle het hom na die kus toe gevat waar hulle ’n boot na Atene gehaal het. Silas en Timoteus het egter in Berea agtergebly.
15Toe Paulus in Atene aankom, het hy die gelowiges uit Berea huis toe gestuur. Hy het vir hulle gesê om vir Silas en Timoteus te vra om so gou moontlik by hom aan te sluit.
In Atene
16Terwyl Paulus in Atene op Silas en Timoteus gewag het, het hy in die stad gaan rondloop.17Orals in die stad het hy op die een of ander tempel of afgodsbeeld afgekom. Paulus het toe na die sinagoge toe gegaan. Daar het hy behoorlik onder die Jode en diegene wat hulle tot die Jodedom bekeer het, ingeklim omdat hulle al die heidense praktyke in hulle stad duld. Paulus het ook op die markplein met die mense oor Jesus begin praat.
18’n Groep persone wat die filosofiese beskouings van die Epikureërs en die Stoïsyne aangehang het, het met Paulus begin stry. Party van hulle het hom sommer openlik beledig: “Watse nonsens is dit wat hierdie man kwytraak? Hy het nie ’n idee wat hy sê met al die stories wat hy vertel nie!” Ander was egter nuuskierig toe hulle hoor hoe hy oor Jesus en sy opstanding uit die dood praat. “Hier is ’n nuwe godsdiens waarvan ons meer moet hoor,” het hulle vir mekaar gesê.
19Dié mense het met Paulus gereël om ’n openbare toespraak op die Areopagus te kom hou. “Kom vertel ’n bietjie vir ons van hierdie nuwe godsdiens van jou,” het hulle gesê. 20“Ons is nuuskierig om meer daaroor te weet. Jy sê sulke snaakse dinge. Waar kom jy daaraan?”
21Atene was ’n stad vir nuwe dinge. Al wat inwoner en besoeker aan die stad was, wou weet wat die jongste filosofie en godsdiens was; daarom dat die mense so nuuskierig was om te hoor wat Paulus te sê gehad het.
Paulus preek op die Areopagus
22Paulus het in die middel van die Areopagus gaan staan en met die mense begin praat.
23“Geagte mense van Atene, ek kan sien dat julle baie godsdienstig is. Nou die dag toe ek hier aankom, het ek na julle tempels en die beelde van julle gode geloop en kyk. Toe kom ek op ’n altaar af met dié woorde daarop: ‘Aan die God wat niemand ken nie.’
24“Ek wil nou met julle praat oor hierdie God wat julle dien sonder dat julle Hom behoorlik ken. Dit is Hy wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy regeer oor alles in die lug bokant julle en oor alles op die grond. Hy bly nie in die een of ander tempel wat deur mense gebou is nie. Daarvoor is Hy heeltemal te groot en te belangrik. Hy het ook nie nodig dat mense 25Hom van die oggend tot die aand moet bedien met allerhande offers nie. Die God van wie ek julle vertel, is nie van ons mense afhanklik nie. Hy het alles op die aarde gemaak, ook elkeen van julle. Dit is Hy wat sorg dat ons elke dag asemhaal. 26Dit alles het begin toe Hy lank terug die heel eerste mens gemaak het van wie al die volke afstam wat nou op die aarde woon. God het toe vir elke volk ’n plek gegee om te bly. Hy het ook besluit hoe lank hulle daar sou bly. 27God wil hê dat al die volke op die aarde Hom moet dien. Hy wil hê dat ons almal voor Hom moet buig. Gelukkig is God naby aan ons almal.”
God gee om vir mense
28“Omdat God so baie vir ons omgee, sorg Hy dat ons almal elke dag kan leef en rondbeweeg. Ons bestaan slegs omdat Hy dit so wil. Een van julle digters het dit mooi opgesom toe hy gesê het: 29‘Ons is deur God gemaak. Ons behoort aan Hom.’
“As dit dan waar is dat ons almal aan God behoort en dat ons van Hom af kom, is dit mos dom om te dink dat iemand ’n beeld van Hom kan maak. Dit is blote menslike vindingrykheid om afgodsbeelde te maak.
30“Vir ’n lang tyd het die meeste mense op aarde niks van God af geweet nie. Gelukkig het Hy dit nie teen hulle gehou nie. Maar daardie dae is nou vir goed verby. Nou vertel ek julle die waarheid oor Hom sodat julle en al die ander mense op aarde kan ophou om in sonde te leef.
31“Want God het besluit dat daar ’n dag sal aanbreek waarop Hy almal op die aarde regverdig gaan oordeel. Hy het ’n baie belangrike Man aangestel om op daardie dag as regter op te tree. Hierdie Man is deur God lewendig gemaak nadat Hy dood was. Almal weet tog al teen hierdie tyd van Hom.”
Geloof en ongeloof
32Toe die mense hoor hoe Paulus sê dat Jesus lewendig geword het, het hulle hom hardop uitgelag. Ander was egter nie so skepties nie. “Vertel ons nog meer. Ons wil graag nog hieroor hoor,” het hulle vir Paulus gesê. Hy het egter genoeg van hulle gehad en besluit om liewer te vertrek.33Tog het ’n groepie mense in Jesus begin glo en by Paulus aangesluit. Onder hulle was Dionisius die Areopagiet, asook ’n vrou met die naam Damaris en nog ’n paar ander.

Tans Gekies:

Handelinge 17: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan